Bible Society of South Africa

Wandel met God – Dag 20

Wandel met God – met krag: Elia

Bybelteks(te)

JAKOBUS 5

17Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

JAKOBUS 5:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KONINGS 17

Elia kondig 'n droogte aan

1Elia die Tisbiet was 'n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

1 KONINGS 17:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KONINGS 18

39Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

1 KONINGS 18:39AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Elia was ʼn mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.” Jakobus 5:17-18

Droogte is iets wat almal se aandag trek. Dit gebeur stadig en genadeloos en beïnvloed almal op dieselfde manier; water word skaarser en die lug is wolkloos. Net soos water noodsaaklik is vir ons fisiese bestaan, is die woord van God lewensbelangrik vir ons geestelike lewe. Indien ons oor ʼn tydperk sonder onderbreking van enige van die twee ontneem word, sal dit verseker tot die dood lei, fisies of geestelik. Israel moes so ʼn toestand in die tyd van Elia die hoof bied. Die noordelike koninkryk was geestelik arm as gevolg van rebelse konings wat afgode aanbid het. Dit het tot gevolg gehad dat die mense hulle harte teen die wet van God verhard het.

Noem ʼn mens Elia se naam, dink jy onmiddellik aan die krag van God wat so duidelik na vore kom in die wonderlike dade wat hy gedoen het (1 Konings 17:14,22; 1 Konings 18:48). Hy was geesdriftig oor sy sending, hy kon die waarheid duidelik sien en het dapper namens die Here gepraat. Hy het Agab, die koning, gekonfronteer en die mense oortuigend deur sy aksies gewaarsku. Dit is te verstane dat hy beskou word as die beroemdste en mees dramatiese van al die profete wat die Here gestuur het om sy woord aan Israel te bring.

Elia het gesê: “… daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie.” (1 Konings 17:1) Hy het dit gesê om aan die mense hulle geestelike droogte te illustreer en om hulle te help om die erns van hulle geestelike situasie te besef. Dit het vir drie en ʼn half jaar nie gereën nie. Hy het toe ʼn kompetisie gehou waar die profete van Baäl tot Baäl moes bid om vuur te stuur, wat hy natuurlik nie kon doen nie, en toe het Elia tot God gebid om vuur te stuur (1 Konings 18:16-41). Stel jou voor die verwagting onder die mense: “Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: ‘Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.’ Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.” (1 Konings 18:36-38) Die hele volk het toe onmiddellik “op hulle knieë geval en uitgeroep: ‘Die Here is God! Die Here is God!’ ” (1 Konings 18:39)

Die dood van die profete van Baäl en die feit dat die volk bely het dat die Here God is, het daartoe gelei dat die droogte gebreek is. Die openbare mislukking van Baäl om die offer aan die brand te steek teenoor die wonderlike vertoon van God se krag toe Hy vuur uit die hemel gestuur het om die papnat altaar en alles op en rondom dit te verbrand, het die mense die waarheid deur Elia se gehoorsaamheid laat sien.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS