Wandel met God – Dag 10
Wandel met God – wees dapper: Ester
Bybelteks(te)
ESTER 4
ESTER 4
DEUTERONOMIUM 20
“As jy nóú swyg en daar kom van ʼn ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ʼn tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Ester 4:14
Hierdie boeiende, skrikwekkende woorde word gevind in een van slegs twee boeke in die Bybel wat na ʼn vrou vernoem is en waar die Naam van God nie genoem word nie. En tog is dit ʼn wonderlike weergawe van hoe God op ʼn wonderbaarlike wyse gewerk het om die lewens van sy kinders te red. God inspireer Ester deur geloof om met die hulp van haar neef Mordegai, wat haar na die dood van haar ouers as sy eie dogter grootgemaak het, die uitdagings wat hulle in die gesig staar te gebruik om die bose te oorkom.
Lees hierdie boeiende boek en sien hoe God deur Ester se dapperheid en wysheid gewerk het. Ester – ʼn mooi jong Jodin met ʼn pragtige karakter – wen die hart van koning Ahasveros van Persië en hy maak haar sy koningin. Sy het egter nie hoogmoedig en trots geword en haar identiteit vergeet nie. Toe sy van Haman se plan hoor om die Jode te vernietig, ondersteun sy haar mense en is meer oor hulle besorg as oor haar eie veiligheid. Sy volg Mordegai se raad en gebruik haar koninklike posisie ten goede.
Met die dreigement van die doodstraf wat oor haar hang, berei Ester haar versigtig voor om die koning te nader om vir haar mense voorspraak te doen, alhoewel dit teen die wet was om direk na die koning toe te gaan. Sy het drie dae gevas en die Jode gevra om dit ook te doen en sodoende te bewys dat hulle almal om God se verlossing pleit: “Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” (Ester 4:16)
Danksy God se genade het sy nie gesterf nie. Ester het die koning se guns gewen en hy het sy goue septer na haar uitgesteek; en Haman, die vyand van die Jode, is op dieselfde dag wat hy beplan het om die Jode dood te maak, gehang. “Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.” (Deuteronomium 20:4)
Ester se dapperheid en geloof praat steeds met ons in vandag se wêreld waar die Here ons beveel om ander lief te hê soos onsself, om te wys dat Hy by ons is en om namens diegene in nood – ongeag ouderdom, geslag, ras of kultuur – op te tree teen die ongeregtighede wat die samelewing mense aandoen.
Sal jy gehoor gee aan sy roepstem?