Wandel met God – Dag 1
Wandel met God – ons is almal belangrik vir Hom
Bybelteks(te)
PSALMS 8
LUKAS 1
Die loflied van Maria
HEBREËRS 13
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ʼn plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon …” Psalm 8:4-6
Die Bybel is vol van besondere ontmoetings tussen God en mense soos ek en jy: Sommige is ryklik geseënd ten spyte van hulle verskriklike omstandighede en ander het, as gevolg van hulle opstand, dwaasheid en trots, God se woede en oordeel op die hals gehaal. Wanneer ʼn mens jou verdiep in die Bybel, is dit fassinerend om te sien hoe die drama van “menswees” voor jou ontvou. Sedert die begin het God gewys dat Hy baie belangstel in sy skepping, die mens, en dat Hy in ʼn verhouding met hom wil wees.
Ons kan met sommige mense wat ons in die Bybel ontmoet identifiseer en ons kan ons voorstel hoe dit sou gewees het in hulle tyd, maar vir sommige van ons blyk hulle lewenservarings net nie heeltemal moontlik nie. Byvoorbeeld, Moses wie se gesig blink geword het nadat hy God op die berg ontmoet het (Eksodus 32:29), of Elia wat gevra het dat vuur uit die hemel afkom (2 Konings 1:12) en later nie gesterf het nie, maar in ʼn stormwind na die hemel opgeneem is (2 Konings 2:11). Of Jesaja wat gesien het dat die Here op ʼn baie hoë troon sit en die onderste deel van sy kleed die tempel gevul het (Jesaja 6:1). Alhoewel dit vir ons moeilik mag wees om hierdie individue te verstaan, is van hulle miskien vir vir ons ʼn held of rolmodel.
Miskien is dit makliker om te identifiseer met Jakob wat met God gestoei het (Genesis 32:24-30), of met Petrus toe hy bang was en Jesus verloën het (Johannes 18:17), of met nederige Maria wat God met blydskap geprys het: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser …” (Lukas 1:46-47). Sy het hom geprys ten spyte van die wete dat die verstommende nuus wat die engel gebring het sal beteken dat sy die skande om ʼn buite-egtelike kind te verwag die hoof moet bied.
God het ons ook gemaak om in ʼn verhouding met Hom te wees, maar Hy is in ʼn ander tyd by ons betrokke en Hy stel ons voor ander uitdagings. Die enigste verskil tussen die bybelse karakters en ons, is tyd en plek. God, sy woord en sy doel vir die mens het nie verander nie: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs 13:8)
Gedurende hierdie maand gaan ons ʼn verskeidenheid manne en vroue uit die Bybel ontmoet, beter leer ken, en uitvind wat God se impak op hulle lewens was. Kyk met nuwe oë na hulle en word deur die manier wat hulle God ervaar het geïnspireer en bemoedig, en vra die Here om Hom op ʼn nuwe manier in jou eie lewe te ervaar.