Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Vriendskap – dag 16

Akwila, Priscilla en Paulus – kollegas en vriende

Bybelteks(te)

ROMEINE 16

3Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus 4wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. 5Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.

My groete verder ook aan my liewe vriend Epenetus, die eerste bekeerling vir Christus in die provinsie Asië,

ROMEINE 16:3-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek hou baie daarvan om mense wat ʼn verskil gemaak het, in die Bybel te ontdek. Priscilla en Akwila is so ʼn paartjie wat saamgewerk en saam die evangelie verkondig het. Paulus het hulle in Korinte ontmoet en het in hulle twee vriendelike metgeselle gevind. Soos Paulus, het hulle ook tente gemaak. Paulus het saam met hulle gewerk en ook by hulle tuisgegaan.

Paulus het pas van Atene gekom waar hy vir Silas en Timoteus gewag het, en waar hy baie verontwaardig geword het toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is (Handelinge 17:16-32). Wat ʼn seën toe hy met sy aankoms in Korinte hierdie twee warm en liefdevolle vriende ontmoet. Dit is dus geen verrassing dat daar onmiddellik ʼn sterk band tussen die drie vriende was nie.

Dit was egter nie hulle sekulêre werk wat die band versterk het nie – dit was die werk wat hulle saam vir Christus gedoen het. Dit was nie lank nie of die twee was baie aktief in Paulus se bediening. Die drie het met hart en siel begin om die gemeente in Korinte op te bou. Toe Paulus na Sirië vertrek, het Priscilla en Akwila hom vergesel. Hulle paaie het wel later geskei, maar nie hulle vriendskap of hulle bediening het tot ʼn einde gekom nie.

Toe Paulus aan die Romeine skryf, vra hy spesifiek dat die Romeinse kerk groete moet oordra aan Priscilla en Akwila, en ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom. Hierdie egpaar het hulle huis vir hulle broers en susters in Christus oopgestel – ʼn wonderlike voorbeeld van Christelike gasvryheid, vriendskap en gemeenskap.

Hulle vriendskap met Paulus het vir die res van sy lewe voortgeduur. Kort voor sy dood skryf hy ʼn kort briefie aan Timoteus. Hy het min tyd, maar nogtans vra hy Timoteus om sy groete aan Priscilla en Akwila oor te dra. Aan die einde van sy lewe onthou hy steeds diegene wat saam met hom gewerk en gedien het, en wat in die ware sin van die woord sy vriende geword het.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS