Vriendskap – dag 14
Dawid en Jonatan – ʼn lewenslange verbintenis
Bybelteks(te)
1 SAMUEL 20
Soos met enige ware vriendskap, was die vriendskap van Dawid en Jonatan nie eensydig nie. Gister het ons gelees van Jonatan se selfopofferende liefde vir Dawid, en vandag handel oor hoe Dawid vir Jonatan liefgehad en gerespekteer het.
Dawid en Jonatan het hulle vriendskap beseël met die verbond wat hulle in 1 Samuel 20:42 gesluit het. Dit sou egter die laaste keer wees dat hulle tyd saam sou deurbring. Hulle het slegs een keer hierna, net voor Jonatan se dood, vlugtig weer ontmoet (1 Samuel 23:16-18). Hulle vriendskap en die beloftes wat hulle aan mekaar gemaak het, is nie deur geografiese nabyheid of selfs die dood beperk nie. Ná Jonatan se dood het Dawid se vriendskap voortgeleef. Dawid se liefde vir Jonatan was so groot dat, toe hy die nuus van Saul en Jonatan se dood ontvang, hy ʼn klaaglied geskryf en opdrag gegee het dat dié lied aan die inwoners van Juda geleer moet word (2 Samuel 1). Selfs ná die dood van Jonatan, het Dawid sy belofte gehou en vriendskap aan Jonatan se nageslag betoon. Hy het Jonatan se seun, Mefiboset, in sy sorg geneem en vir die res van sy lewe vir hom gesorg. Hy het selfs vir Mefiboset uitgenooi om van toe af aan sy tafel te eet (2 Samuel 9).
Dawid en Jonatan kon vyande en mededingers gewees het, en tog, in plaas van jaloesie, haatdraendheid en ʼn honger na mag, het hulle gekies om beste vriende te word.