Bible Society of South Africa

Vrese en bekommernisse: Teleurstelling – 21 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

JOHANNES 14

Jesus gaan na sy Vader toe

1“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.

JOHANNES 14:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer laas was jy teleurgesteld oor iets? Ek dink die meeste van ons kan dink aan ’n voorval waar ons diep teleurgesteld gevoel het. Daar is mos maar altyd daardie een geval wat ons bybly …

As ek aan teleurstelling dink, dink ek dadelik aan my graad 11-jaar. Met matriek wat wink, was dit my hartsbegeerte om aan die einde van die jaar as hoofleier verkies te word. Ek het gevoel ek het hard gewerk en gewys waartoe ek as lid van die leerlingraad in staat is. Vir bietjie konteks, ek was ’n regte “pliggie” op skool – ek het hard geleer en was betrokke by verskeie skoolaktiwiteite. Ek wou alles reg doen.

So, toe ek nié as hoofleier verkies is nie, en al drie my beste maats ís, was ek totaal verpletter. Ek sal nooit daardie absolute gevoel van verdriet, moedeloosheid en totale teleurstelling vergeet nie.

Ek was kwaad maar het terselfdertyd hulpeloos gevoel want ek het geweet ek kan absoluut niks aan die situasie verander nie. Ek het die nag ná die prysuitdeling waartydens die aankondiging gemaak is, óm gehuil. Die teleurstelling was vir my tienerhart een te veel.

Dit is dalk ’n baie simpel voorbeeld maar in verskillende fases van ons lewens is verskillende goed mos maar belangrik.

Wanneer ek vandag – 16 jaar later – terugkyk, maak ek nie daardie emosie en situasie af as niks of nonsens nie. My emosies was geldig. Maar ek besef hoe waardevol daardie ervaring eintlik was, selfs al was dit seer en sleg. Dit was my eerste les in veerkragtigheid – die vermoë om te kan terugspring ná ’n terugslag. Dit was ’n ervaring wat my ’n klein bietjie taaier gemaak het en dit het my geleer om te kies hoe ek op omstandighede gaan reageer.

Ek glo met my hele hart God het daardie teleurstelling gebruik om vir my ’n hele rits lewenslesse te leer en om my te herinner dat ek aan Hom moet vashou wanneer my hart gebreek is en dinge nie uitwerk soos ek gehoop of beplan het nie.

As ek Johannes 14 lees, kan ek net dink dat Jesus se dissipels ook baie teleurgesteld moes wees toe hulle hoor Hy gaan hulle verlaat ná hulle soveel tyd saam deurgebring het. Tog is Jesus se raad aan hulle só eenvoudig: Hulle moet in God en in Hom glo en dus aanhou vertrou.

Geld dit nie maar vir enige vorm van teleurstelling nie? Ons weet mos, God werk altyd met ’n plan. En sy planne is in elk geval altyd beter as ons eie.

Gebed: Here, teleurstelling kan ons moedeloos laat voel. Soms laat dit ons so geweldig hartseer en hulpeloos. Help ons om na U te draai wanneer ons teleurstelling ervaar en gebruik asseblief die uitdagende omstandighede om ons te vorm en sterker te maak. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS