Bible Society of South Africa

Hoop en dankbaarheid: Sien God se goedheid raak – 22 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 9

2Met my hele hart wil ek U prys, Here,

wil ek van u magtige reddingsdade vertel.

Sowat twee weke gelede het ek geskryf oor vreugde en dankbaarheid wat dikwels hand aan hand gaan. Dankbaarheid en ’n ander uitkyk op moeilike situasies kan vir ons, nie net vreugde en blydskap bring nie, maar ook hoop. Wanneer ons die goeie raaksien, selfs in droewige omstandighede, gee dit vir ’n mens hoop want dit beteken ’n mens kan steeds God se goedheid raaksien.

My ma was ’n jaar of wat terug besig om klas te gee. Toe sy vir ’n oomblik afkyk, sien sy haar goue verloofring, wat aan haar troupand vas is. Maar daar waar die diamant hoort, is net ’n gat. Die diamant het uitgeval. (Nou kyk, ek is maar ’n kraai en lief vir ’n blink ding, so die idee van so ’n voorval ontstig my verskriklik.)

So sê my ma toe vir haar klas dat haar diamant weg is. Die matrieks was almal net so geskok en ontsteld en het naarstiglik na die klein diamant begin soek. Een kind het skoon die besem gegryp en begin vee.

Ná ’n paar minute het my ma die soektog gestaak en besluit dat hulle eerder met die klaswerk moet voorgaan.

“Maar juffrou, wat van juffrou se ring?” het een kind bekommerd gevra.

“Ag, dit is net ’n ring. Ten minste het ek nog my man,” het sy geantwoord.

Ja, my ma was teleurgesteld oor die verlies. Maar sy het nooit toegelaat dat dit haar vreugde steel nie want sy het besef daar is ander dinge in haar lewe wat veel meer saak maak en veel meer waarde het as ’n diamant.

Ek koester hierdie verhaal want dit herinner my gedurig om God se goedheid raak te sien en daaroor dankbaar te wees, selfs al is ek hartseer of teleurgesteld oor iets. Dit herinner my om God se genade in my lewe opnuut te waardeer en om elke dag hoopvol aan te pak.

Gebed: Liewe Here, help my om u goedheid raak te sien. Help my om met ’n dankbare hart die lewe se uitdagings aan te pak en hoop te hê omdat ek weet U sal sorg. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS