Teenstrydige geduld – 4 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
MARKUS 12
Hierdie gelykenis – waarna gewoonlik verwys word as “Die gelykenis van die huurders”– het regtig die verkeerde benaming. Die storie handel nie hoofsaaklik oor die huurders nie, maar oor die absurde geduld van ‘n liefdevolle God.
Hierdie gelykenis is ‘n verwerking van God se prentjie van sy volk soos beskryf in Jesaja 5:1-7. In Jesaja is die wingerd ‘n metafoor vir Israel wat God vir ‘n tyd gestraf het deur hulle in ballingskap weg te stuur. In Jesus se gelykenis verteenwoordig die wingerd ook God se volk, die Jode (nou terug uit ballingskap). En hulle leiers weet Jesus verwys na hulle. (Markus 12:12)
In Joodse storievertellings word gebeure dikwels drie keer herhaal om die voltooiing van ‘n episode aan te dui. Drie slawe word na die huurders gestuur om die opbrengs van die wingerd te ontvang, maar die eerste twee word aangeval en die derde een word doodgemaak. Die skare verwag heel moontlik dat die gelykenis daar moet eindig. So die woorde wat volg, kom as ‘n verrassing: “Hy het ook baie ander gestuur, van wie hulle sommige geslaan en ander doodgemaak het.”(Markus 12:5b). Jesus verwys hier na die baie profete wat God in die verlede na sy volk gestuur het. Sy volk wou egter nie luister nie, en het die profete mishandel. Hoe teenstrydig is God se geduld nie!
Die verhaal gaan voort en Jesus vertel van die grondeienaar wat uiteindelik sy eie geliefde seun gestuur het met die gedagte dat die huurders sy seun sou respekteer. Maar die opstandige huurders het hom ook verwerp en doodgemaak. Op die ou end triomfeer God se genade wanneer Hy die wingerd aan ander mense gee (en hulle word die kerk van Christus).
Is ons as God se kinders vandag getrou in ons diens aan Hom?
Gebed: Vader, ons loof U vir u geduld met ons. Mag ons U gewillig dien en die eerste vrugte van ons lewens aan U offer. Amen