Bible Society of South Africa

Onuitspreeklike vreugde – 6 April 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

8-9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

1 PETRUS 1:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Petrus se eerste lesers was oorweldig deur ‘n vloedgolf van slegte nuus. Hulle het verwerping in hulle eie gemeenskappe beleef as gevolg van hulle geloof. Dit het ook lewensgevaarlik geword om Jesus as Here te bely in die Romeinse Ryk. Wanneer ‘n mens se lewe in gevaar is, dan is dit moeilik om enigsens aan blydskap te dink. Dit is hartverskeurend om die vlugtelinge uit die Oekraïne se emosie te beleef.

Tog het ons as mense iets nodig om die lewe draaglik te maak in sulke tye. Ons kan nie vir baie lank onder die druk van vervolging oorleef as daar nie ‘n duidelike bron van hoop vir ons is nie. Ons het iets nodig om voor te lewe, groter as onsself, in staat om bo ons omstandighede uit te styg. Hoop maak dat mense die moeilikste omstandighede kan oorleef.

Die eerste lesers van Petrus se brief het ons Here Jesus as Here van hulle lewe leer ken. Hulle het nuwe mense geword deur geloof in Hom. Dit het ook beproewing vir hulle meegebring. Dit wat hulle in hierdie omstandighede gedra het, was die liefde van Jesus. Hy het hulle lewens so aangeraak en verander, dat dit hulle begeerte was om voluit vir Hom te lewe, ongeag die koste daaraan verbonde. Hulle het nou ‘n einddoel vir hulle geloof gevind – hulle is op pad om saam met Hom in sy Vader se woning te lewe. Al is die vervolging hoe wreed, die lyding hoe moeilik, kan geen mens God se liefde van hulle af wegneem nie. God se liefde vir Hom het liefde in hulle lewens gewek – hulle het Hom lief vir wie hulle nog nooit gesien het nie.

Die eerste lesers se Here is steeds ons Here vandag. Ons het sy liefde ook in ons lewens ontdek. Ons ervaar sy troue sorg. Ons weet dat Hy met ons op pad is na die saligheid toe. Omdat ons sy genade en vrede ervaar, het ons Hom passievol lief. In hierdie geloofsverhouding met die lewende God vind ons die hoop wat ons deur alle omstandighede dra. Ons oorleef nie net in hierdie wêreld nie, ons het die ware lewe ontdek, lewe in oorvloed soos Jesus in Johannes 10:10 belowe het vir elkeen wat Hom volg. In hierdie lyding beleef ons iets verstommend – ten midde van al die negatiewe nuus ervaar ons ‘n blydskap wat nie met woorde beskryf kan word nie. Lewensvreugde. Die dankbaarheid dat my lewe selfs nou sin maak, omdat die Here my lief het, en met my op pad is. Sy liefde is groter as my uitdagings, en sy hoop is dieper as al my beproewings. Dit maak my bly!

Gebed: Here, dankie dat U my so liefhet, dat U my duur aan die kruis op Golgota gekoop het. Dankie dat U my ‘n nuwe mens kom maak het. Dankie dat ek saam met U op pad is deur my lewensreis. Dit maak alle uitdagings hanteerbaar. Dankie dat U my vreugde in die lewe is! Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS