Bible Society of South Africa

Die fondament van ons hoop – 7 April 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

Die verlossing reeds deur die profete aangekondig

10In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

1 PETRUS 1:10-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer die lewe uitdagend raak, dan wil ‘n mens graag seker wees jy bou op vaste fondamente. Petrus se eerste lesers het groot vervolging beleef ter wille van hulle geloof in Jesus as Here van hulle lewe. Hulle sou dikwels wonder of hulle op die regte pad is. Is dit die moeite werd om Jesus te volg, as die roete so moeilik is?

Petrus sê: die evangelie van Jesus is iets waaroor selfs die engele meer wil weet. Dit is ‘n betroubare Woord, wat die toets van die tyd deurstaan het. Die evangelie was nie iets nuut wat iemand onlangs uitgedink het nie. Oor eeue heen het die profete diep nagedink oor die openbaring van God se genade. Hoe God Homself aan ons bekend gestel het, en wat van ons verwag word om in ‘n verhouding met Hom te mag lewe.

In die Ou Testamentiese tye het die Messiasverwagting al hoe sterker begin leef in die harte van gelowiges rondom die ballingskaptyd. In ‘n tyd waarin hulle alles verloor het, ver van hulle land af was en verlang het na die tempel, het hulle ‘n Verlosser begin verwag wat hulle sou bevry. Hulle verwagting was ‘n aardse, politieke oplossing. Maar die hart van die evangelie, sê Petrus, is die Messias, die Christus, wat eers sou moes ly. Hy sou die sonde en gebrokenheid van die mensdom op Hom neem, en daarvoor betaal. Daarmee het Hy die Middelaar geword wat vrede tussen God en mens moontlik gemaak het. Na sy lyding sou Hy verheerlik word, deur sy opstanding, en deur sy hemelvaart waar Hy sy regmatige plek sou inneem by die troon van sy Vader. Dit is die evangelie – ons word gered deur die lyding van die Christus. Ons word verheerlik deur geloof in Hom alleen.

Die Heilige Gees het die profete geïnspireer om oor hierdie Jesus te skryf, sê Petrus. Dieselfde Gees werk ook in die lesers om die evangelie in mense se harte vandag oor te dra. Die inhoud van die evangelie is Jesus wat gely het vir ons, en verheerlik is sodat ons in sy voetspore kan volg tot by sy Vader se troon. Dit gee ons hoop om alles te kan verduur op ons lewenspad.

Gebed: Baie dankie, Gees van God, dat U die Woord geïnspireer het deur die profete. Dankie dat U die Woord ook vir my verstaanbaar maak, en my lei om Jesus al beter te leer ken. Dankie dat U my die krag gee om Hom na te volg, deur die lyding heen tot by die verheerliking by my Vader se troon. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS