Bible Society of South Africa

‘n Skat in ‘n kleipot – 14 Desember 2022

Deur Carina Francke

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 4

'n Skat in kleipotte

7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

2 KORINTIËRS 4:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Woord van die Here gebruik ‘n paar keer die klei metafoor om lewenswaarhede en -lesse op ‘n praktiese manier aan sy volk (en aan ons) tuis te bring. Hy stuur onder andere die profeet Jeremia as waarnemer na die pottebakker se huis. Hier sien die profeet hoe maklik ‘n kleivoorwerp kan misluk, selfs in die hande van ‘n vaardige pottebakker. Die rede? Die klei wat die pottebakker gebruik het, was van swak gehalte. Die gevolg? Hy skep ‘n ander voorwerp na sy goeddunke. (Jeremia 18:1-8)

Wat die pottebakker maak, hang af van die kwaliteit van die klei. Wat God egter van sy geliefdes maak, hang af van hulle respons of reaksie op sy betrokkenheid in hul lewens.

Jy sien, die kwaliteit en geskiktheid van die klei, speel ‘n belangrike rol in die eindproduk van sekere kleivoorwerpe. Kortom: klei van swak kwaliteit – mislukte voorwerp. Geen wonder dan nie, dat klei vir sekere ander voorwerpe, soms getrap, gerol en geknie moet word ter voorbereiding vir ‘n nuwe of ander voorwerp wat die pottebakker in gedagte het. Die vraag aan jou en my: Is ons as klei in God se hand, gewillig en gereed vir so ‘n voorbereiding ten einde die presiese voorwerp (mens of instrument) te wees wat Hy in gedagte het om in sy koninkryk op aarde te gebruik?

Paulus skryf in 2 Korintiërs 4:7 aan elke gelowige: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.“

Wat ‘n ontnugterende, maar terselfdertyd kragtige verklaring aan elke gelowige! Ons is maar net breekbare kleipotte van stof/sand, maar ons dra ‘n skat in ons rond!

Waarom die gelowige ‘n kleipot noem? Dit maak ons bewus van ons nietigheid, ons onbeduidendheid sonder Christus.

Wát of wie is die skat en wat is die waarde daarvan? Die Skrif het ‘n verrassende antwoord: “dit is die alomteenwoordige Christus – die Gesalfde Een met lewegewende openbaar-makende Heilige Gees krag in ons. Deur ons geloof in Jesus Christus wat ons vrygekoop het aan die kruis, het ons onder andere deelgenote geword van die Goeie Nuus, die Nuwe Verbond (2 Korintiërs 3:17), die evangelie van Jesus Christus – ons Waarborg; die Lig van die evangelie en die heerlikheid van God. (2 Korintiërs 4:3-4)

As gelowige trotseer ons allerlei gevare. Soms word die kleipot verdruk, verleë, vervolg en neergegooi. En al lyk dit of hy aan flarde is, gryp God telkens in om die kleipot te bewaar. Simbolies wys die breekbaarheid van die kleipot na Christus se lyding en sterwe ter wille van ons, sy vrygekoopte geliefdes.

Gebed: Ons hemelse Vader, dankie dat U kragtelose, breekbare kleipotte gebruik as draers van die evangelie van Christus. Maar in besonder baie dankie dat U, die Heilige Gees van God, in ons woon en ons bekragtig deur die werking van die Heilige Gees in ons. Aan U alleen kom toe eer en lof en aanbidding. Amen

Bible Society of South Africav.4.27.6
VOLG ONS