Bible Society of South Africa

Beurtkrag – 13 Desember 2022

Deur Carina Francke

Bybelteks(te)

MATTEUS 11

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

MATTEUS 11:28-30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke Suid-Afrikaner loop hom deesdae tromp-op vas in die kwaad-maak gonswoord beurtkrag. Of soos in Engels, load shedding. Jy weet mos, dis daardie inkorting van kraggebruik deur die kragverskaffer op sekere tye en dae. Lewe sonder lig. Toegegee, die voorafbepaalde tydskedules is baie nuttig vir vooruitbeplanning vir huishoudings, maar steeds moet gesinslede en koinonia-groepe sekere take en verpligtinge voel-voel in die donker aanpak en voltooi. Maar nie sonder die hoorbare en verbale geluide van frustrasie nie!

Om te lees is byna onmoontlik – die kerse en lampe se effentjies lig, gooi net flikkerskadu’s oor die leesstof. Jou oë brand en traan later van inspanning. Die kleingedrukte woorde in die Bybel en kommentare, bemoeilik lees, en gevolglik lei sinvolle, Woordgefundeerde gesprekke daaronder. Trouens, ‘n sessie of twee, het selfs ontaard in ‘n onvolledige, duimsuig, verbale uitruil van (aangepaste) feite en inhoud. ‘n Krapperigheid onder mekaar het begin kop uitgesteek.

Dit was tydens so ‘n kuier, cum koinonia geleentheid, dat een van die jongmanne hardop uitroep: “Shed die load people, shed die load! Wees dankbaar vir beurtkrag; vir load shedding!” Jy kon ‘n speld hoor val toe hy begin praat: “Vriende, elkeen van ons worstel met ons eie laste en ek wil dit waag om te sê dat vanaand se beurtkrag of load shedding, vir ons ‘n geleentheid skep “to shed off our own loads”. Jesus nooi jou self uit: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)

Gelukkig funksioneer die kragtige Gees van die Here nie op die beurtkrag beginsel nie. Nee, sy Gees is vier-en-twintig-uur inwonend in die lewe van die gelowige. Hy stel jou en my in staat om ontslae te raak van die “oortollige laste” waarmee ons worstel. Anders gestel, sy teenwoordigheid in jou lewe, stel jou in staat “to shed the load” van die lewe wat jou wil lamlê. Natuurlik net as jy Hom vra en sy tydlyn vir vandag naloop.

Gebed: My Vader, dankie dat die gelowige elke oomblik van elke dag ‘n oop deur na u teen-woordigheid kan betree. Herinner en leer ons om gebruik te maak van die daaglikse “shed your load” geleenthede wat U skep, maar bowenal, gee aan ons harte en ore om u stem hard en duidelik te hoor. Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS