Genade: Koninklike genade – 25 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
LUKAS 10
Ons het onlangs ‘n fassinerende besoek gebring aan die ruïnes van ‘n kasteel wat in die 11de eeu deur William die Veroweraar gebou is. Hierdie magtige vesting het vir sowat 600 jaar ongeskonde gebly totdat dit in ‘n burgeroorlog deur ‘n buskruitontploffing vernietig is.
Terwyl ons elke hoek en gaatjie verken en oor die pragtige plattelandse omgewing wat die kasteel omring uitgekyk het, het ons aandagtig na die kommentaar geluister of stukke gelees. Dit het ons in staat gestel om, soos ‘n geweefde tapisserie, ‘n idee te vorm van die florerende gemeenskap wat binne die mure van dié kasteel geleef en gewerk het, elke persoon met ‘n spesifieke doel wat ‘n belangrike bydrae gelewer het tot ‘n harmonieuse omgewing, in wese tot die genot van die koning en sy hof, en waarby almal gebaat het.
Is dit nie eintlik waaroor die lewe vir ‘n Christen gaan nie?
Deur saam te werk vorm ons ‘n florerende gemeenskap wat tot voordeel van almal leef en werk, terwyl ons met ons hele wese uitdrukking gee aan ons liefde vir God, gehoorsaam is aan die Koning en vir ons medemens leef, want “alles wat [ons] wil hê dat die mense aan [ons] moet doen, moet [ons] ook aan hulle doen’.” (Matteus 7:12) Dit is wat Jesus die wetgeleerde beveel het om te doen toe hy Hom gevra het: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” (Lukas 10:25)
As die wetgeleerde maar net tyd gespandeer het om te kyk hoe Jesus werk en geluster het wanneer Hy die mense leer, sou hy Jesus se integriteit raakgesien en ‘n kykie van God self gekry het (Johannes 14:10), die God wat die wet in die eerste plek daargestel het. Hy sou ook gesien het hoe Jesus sy hele lewe daaraan gewy het om ander lief te hê en te dien, en so ‘n voorbeeld van dienende leierskap te stel – ‘n onbekende konsep op daardie stadium.
Jesus het God se krag aan die werk gewys deur siekes en verlamdes te genees, blindes te laat sien, en dooies tot die lewe op te wek – op alle vlakke – en water in wyn te verander.
Hy het Hom ernstig uitgespreek teen skynheiligheid, die veroordeling van ander, en die bevoordeling van die invloedryke rykes, terwyl die behoeftes en regte van die armes geïgnoreer word. Hy was betrokke by die gemarginaliseerdes en diegene wat deur die samelewing verwerp is, Hy het kinders gewaardeer en hulle verwelkom, selfs wanneer Hy moeg was. Hy het nooit iemand weggewys nie, selfs wanneer Hy hartseer was. (Matteus 14:14)
Jesus het ‘n lewe van genade geleef en daagliks die “hoe” van sy leringe gedemonstreer en Hy het dieselfde van sy volgelinge verwag: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. (Matteus 16:24-25)
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6)
Kom ons spandeer daagliks tyd met Jesus, die Lewende Woord, sodat sy Gees die tapisserie van genade in die kasteel van ons lewens kan weef.
Gebed: Genadige Jesus, help my om meer soos U te word wanneer ek daagliks my kruis opneem om ander lief te hê soos U hulle liefhet. Amen