Genade: Koninklike geloof – 24 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
1 KRONIEKE 17
In Antoine de Saint-Exupéry se boek, “Die klein prinsie” word die eerste planeet wat die klein prinsie op sy ontdekkingsreis besoek, bewoon deur ‘n koning wie se pelskleed so lank en pragtig is dat dit die hele planeet vul en daar geen plek oor is vir die klein prinsie om te sit nie.
Hy is baie verbaas daaroor, maar in die loop van hulle gesprek word dit duidelik dat alhoewel die koning homself as die koning van ‘n absolute monargie en ook as ‘n regverdige heerser beskou, hy geen onderdane het nie. Dus oorskat die koning sy belangrikheid en mag heeltemal.
Koning Dawid skilder ‘n geheel en al ander prentjie, want sy woorde getuig van nederigheid en eerbied wanneer hy die Here, sy Koning, nader. Alhoewel hy reeds in sy jeug gesalf is, was sy pad tot koningskap nie maklik nie. En tog het hy daarin geslaag om die wagperiode met integriteit te hanteer. Die Gees van God het hom deur genade deur donker en moeilike situasies gelei en hy het getrou gebly. God praat nou met hom deur die profeet Natan en Dawid is verstom dat die Here hom en sy huis tot in ewigheid uitverkies het. “Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. Wanneer jou tyd daar is om by jou voorvaders te rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee. … Ek sal sy troon blywend vestig.” (1 Kronieke 17:8,11,12b)
Dawid ontvang God se boodskap met beskeidenheid, want, na alles, het hy nie maar net sy roeping vervul nie? Die Here het geweet dat hy in sy hart net ‘n skaapwagter is.
Dawid het reeds ‘n verhouding met die Here gehad toe hy sy pa se skape opgepas het en elke keer wat God hom teen ‘n leeu of ‘n beer (1 Samuel 17:34-36) beskerm het, het sy geloof gegroei. Dit het hom goed voorberei om Goliat, die Filistynse reus, te bekyk en dapper te besluit om teen hom te veg met slegs ‘n slingervel in sy hand. Met sy geloof in God, en ontstoke oor die Filistyn se vermetelheid om God se leër te verkleineer, het Dawid, sonder om vir sy eie veligheid te vrees, besluit om tot eer van die Here op te tree.
Dawid se egte en edel geloof het gemaak dat hy, metafories gesproke, kop en skours bo koning Saul en die Israelietiese leër uitgetroon het. Slegs hy het vir God opgestaan terwyl hulle angsbevange vir Goliat weggekruip het. Dit is sekerlik hierdie getroue, edel geloof wat gemaak het dat God van hom gesê het: ‘Ek het in Dawid … ‘n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer”. (Handelinge 13:22)
Die Here het Dawid se hart geken, en Dawid was vol vertroue in sy roeping nadat “Samuel die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf [het]. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk”. (1 Samuel 16:13) Dit was die eerste van drie keer wat hy tot koning gesalf is en vir veertig jaar regeer het. In hierdie tyd het hy God se genade geken en dit ook aan ander bewys.
Hoe edel en eg is ons geloof? Staan ons op vir die eer van God wanneer dinge verkeerd is? Deur sy Seun is God se genade vir ons eindeloos, en Hy roep steeds mans en vroue “na [sy] hart” om Hom getrou te dien.
Sien jy kans?
Gebed: “Ek wil u lof verkondig, my God en Koning, ek wil u Naam altyd loof. … Die Here is groot, alle lof kom Hom toe … (Psalm 145:1,3) Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. (Psalm 119:34-35) Amen