Bible Society of South Africa

Doelwitte en voornemens: Kom jou beloftes na – 10 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

JESAJA 7

14Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

Kersfees is dalk vir nou verby en die kuiers saam met familie net ’n herinnering. Maar dit beteken nie dat die Kersboodskap ook net ’n herinnering moet wees nie. Ja, jy lees reg – Kersboodskap in Februarie. Maar kom ek verduidelik waarom ek daaraan dink.

As daar nou een voorbeeld is van ’n eeueoue belofte wat nagekom is, is dit die geboorte van Jesus. In die Ou Testament lees ons plek-plek oor God se belofte van ’n koning wat gaan kom en mense van hul sonde gaan verlos – ’n koning wat vir ewig gaan regeer.

God was soos altyd getrou en het nooit van hierdie groot belofte vergeet nie, selfs al het dit baie lank gevat voor dié belofte nagekom is.

Net so vra die Bybel dat ons ook getrou moet wees en ons beloftes moet nakom: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe…” (Galasiërs 5:22, ABA)

Om ons beloftes na te kom, is eintlik so ’n eenvoudige voorneme vir die nuwe jaar. Dit beteken gewoon dat as jy gesê het jy gaan iets doen, jy dit doen. En ja, dis gewoonlik makliker gesê as gedaan want tussen-in gebeur die lewe. Dinge val voor, omstandighede verander en soms vergeet mens sommer net. Partykeer is dit gewoon omdat ’n mens aanhou uitstel dat jy nie jou belofte nakom nie.

Maar wat as God destyds van sy belofte vergeet het? Dan sou ons nie vandag kon vry wees van ons sonde nie. Dan sou ons nie kon vashou aan die belofte van vergifnis en die ewige lewe nie. Dis omdat God nog altyd getrou was dat ons sonder twyfel op Hom kan vertrou en staatmaak.

Ek besef ons beloftes is nie noodwendig altyd só gewigtig nie. Maar dit is ’n beginselsaak. Die Bybel vra dat ons getrou moet wees en ons dít wat ons belowe, moet doen. Dit wys weer om die beurt dat ons vertrou kan word en dat ons integriteit het, soos dit ook moet wees met ’n kind van God.

Ek weet waar ék kan begin om seker te maak ek kom altyd my beloftes na: Ek kan ophou uitstel en daad by die woord voeg.

Wat kan jy doen om vanjaar jou beloftes na te kom?

Gebed: Hemelse Vader, U het jare en jare gelede beloof dat U ’n Verlosser gaan stuur. Help my om hierdie jaar my beloftes na te kom en getrou te wees, net soos wat U is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS