Doelwitte en voornemens: Goedheid – 9 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
MATTEUS 5
Wanneer ’n mens in die Bybel lees oor die lamp wat veronderstel is om op die lampstaander te staan, is Jesus se boodskap baie duidelik: Jy moet jou lig laat skyn sodat almal dit kan sien. Jy moet op só ’n manier leef dat die mense rondom jou weet jy is ’n kind van God.
God wil hê ons moet goeie goed doen en reg lewe sodat ons optrede ’n geloofsgetuienis kan wees – ’n lig in ’n donker wêreld. Om goed te wees vir ander en goeie dinge te doen is mos een van die “vrugte van die Gees” soos ons ook in Galasiërs 5:22 lees: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed…”
Nou, dit kan nogal maklik klink of jy redelik baie selfvertroue moet hê, of selfs so ’n klein bietjie verwaand moet wees om jou lig te laat skyn en vir die wêreld te wys watse goeie mens jy is. Maar ek glo ons kan darem met sekerheid sê dat dit nie die waarheid is nie. Inteendeel, as ’n mens mooi daaroor gaan dink, is die beeld van ’n lig in ’n stikdonker vertrek eintlik so kragtig. Dink maar net aan ’n klein kersie wat flikker as die krag afgegaan het. Daar is iets gerusstellend aan selfs die piepkleinste liggie wanneer jy alleen in ’n donker huis sit.
Net so is dit met goedheid. Dit is verblydend en gerusstellend as ons hoor of weet van mense wat goed is vir ander. Ons leef immers in ’n wêreld waar ons dikwels oorweldig kan voel deur swaarkry, hartseer gebeure en slegte nuus.
Ons moet daarom nooit die waarde van ’n bietjie goedheid teenoor ander mense onderskat nie, maak nie saak wie dit is nie. Selfs al is jou liggie net ’n flikkerende vuurhoutjie … Dit sál vir iemand iets beteken.
Gebed: Liewe Here, help my asseblief om ’n lig te wees in ’n wêreld waar dit so maklik kan voel of die donkerte van hartseer en swaarkry ons wil oorweldig. Help my om goed te wees vir ander mense en vir hulle te wys dat ek u dienaar is. Amen