Bible Society of South Africa

Die vraag is: Hoe lank gaan jy op twee gedagtes hink? – 5 Julie 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

1 KONINGS 18

21Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”

Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie.

1 KONINGS 18:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hoe maklik is dit vir jou om ‘n besluit te neem? Sal jy kan antwoord as iemand vir jou vra wie jy glo God is: die Here, die Skepper van die heelal of Baäl, ‘n standbeeld wat deur ‘n mens gemaak is van hout wat deur God geskep is? Nie alle besluite is eenvoudig nie. Onderskeidingsvermoë blyk meer kompleks te wees as wat dit op die oog af voorkom.

Vrees en politieke korrektheid het moontlik aanleiding gegee tot die volk se stilte, want koning Agab en koningin Isebel het Baäl aanbid; of miskien is hulle in ‘n moeilike posisie geplaas, want alhoewel hulle Israeliete was, het hulle aan die Kanaäniete se heidense vrugbaarheidsrituele deelgeneem, en het dus die wet van God oortree: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie”. (Eksodus 20:3)

Elia was duidelik nie verward nie en het daarop aangedring dat hulle hulle dubbelsinningheid erken. Hy het geen probleem gehad om tussen waarheid en valsheid te onderskei nie, en onmiddellik die Here se opdragte te gehoorsaam nie – iets wat vir die Israeliete baie moeilik was aangesien afgode aanbid is, waar hulle gewoon het.

Maar die toegewyde Elia het dapper voor Agab gestaan en geprofeteer dat daar vir baie jare ‘n droogte sou wees (1 Konings 17:1) en toe die Here hom die opdrag gee om in die Kritspruit te gaan wegkruip, het hy nederig gewag dat die kraaie elke oggend en aand vir hom brood en vleis bring. (1 Konings 17:2-6) Toe die Here hom beveel om tydens die hongersnood by die weduwee en haar seun te gaan bly het hy gehoorsaam en Elia se geloof het gegroei. Hy het gesien hoe die Here verseker het dat daar genoeg meel en olie in die kruik was om hulle aan die lewe te hou ((1 Konings 17:12-16); en hy was die instrument in God se wonderwerk om, nadat die weduwee se seun siek geword en gesterf het, hom weer lewend te maak. (1 Konings 17:19-21)

Teen die tyd toe die kragmeting aangebreek het met Agab, Isebel, die 450 profete van Baäl en die volk van Israel, en wat die krag van God bo alle twyfel bewys het, (1 Konings 18:16-19) was Elia dapper en vol krag. Toe die Here vuur uit die hemel gestuur het wat die offer en alles om dit verbrand het, het die hele volk ” … op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” (1 Konings 18:39), en uiteindelik hulle antwoord gegee.

Verskil ons enigsins van hulle?

Om die Here opreg te dien kan nooit halfhartig wees nie, maar sommige van ons plaas onbewustelik mense of dinge voor Hom, en gee ons oor aan politieke korrektheid of ons eie grille net om in te pas by ‘n spesifieke konteks. Kan ons met God wandel en soos Elia in die geloof groei as ons nie seker is van ons ware getrouheid nie? Moet ons vir vuur uit die hemel wag voordat ons besluit?

Jesus leer ons: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. … ” (Matteus 6:24) Hy beskuldig ook die kerk van Laodisea dat hulle louwarm is: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was!” (Openbaring 3:15)

Het jy al besluit waar jy staan?

Gebed: Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou. Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. (Psalm 119:33-37) Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS