Die beste verdediging – 15 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
LUKAS 14
Beide hierdie gelykenis en die daaropvolgende een (Lukas 14:31-33) wat oor ‘n koning se oorlogsplanne handel, verwys na ‘n verdedigingstrategie. Torings voorsien ‘n plek van waar die wagte kan uitkyk en die mense betyds teen die aankomende vyand kan waarsku. Die koning kan dan sy troepe byeenbring en sy gebied verdedig.
‘n Halfvoltooide gebou en ‘n dwase geveg, is beide slegte idees. ‘n Wyse persoon sal eers sy berekenings maak en die koste beraam van wat ook al gedoen moet word.
Jesus bied aan die krygers wat vir die koninkryk veg ‘n verdedigingstaktiek om sukses te behaal in gevegte wat op hulle wag. Dié strategie is volkome toewyding aan deeglike voorbereiding.
Die lewe van ‘n dissipel sluit baie gevegte en getrouheidstoetse in. By tye verloor ons moed en is gereed om op te gee. Maar Jesus openbaar die geheim van sukses – ‘n volkome verbintenis tot die Woord van God.
Die herhaalde tema in hierdie teksverse is of jy in staat is om ‘n taak uit te voer. Elkeen van ons moet vra: “Kan ek sy dissipel wees?” Dit is ‘n ernstige vraag. Maar Christus het reeds die oorwinning behaal. Danksy Jesus kan ek en jy sê: “Ja, ek kan”. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Filippense 4:13) Dit verg ‘n radikale geloof in die krag van Christus in ons om vas te staan en te volhard.
Gebed: Here, help my om die prys te bereken en my daartoe te verbind om U te dien. Skenk asseblief aan my die genade om die weg waarop U my geplaas het, te volg en om deur u krag te seëvier. Amen