Bible Society of South Africa

Watter kant toe kyk jy? Kyk op – 31 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

My hulp kom van die Here

1'n Pelgrimslied.

Ek kyk op na die berge:

waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

2My hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

PSALMS 121:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al opgemerk hoe vinnig die lug verander wanneer die son sak? Die kleure verander binne ’n oogwink van blou na streperige skakerings van oranje, pienk en pers. Wanneer die lug soos ’n reuseskildery lyk, voel ek klein en nietig, hier onder op aarde … Die ding is, om dit raak te sien, moet jy jou oë na bo rig. Jy moet opkyk.

Daar is nog nege maande van 2023 oor. Met Paasnaweek wat wink, kan ek skaars glo hoe vinnig hierdie eerste drie maande verbygevlieg het. Die lewe gaan weer spoed optel en ja, dan blits die maande verby.

Ons weet nie wat nog vir ons wag nie. Die eerste drie maande van die jaar was allermins maklik. Of hoe?

In die maande wat kom, gaan daar beslis hoogtepunte wees, jy gaan dalk wonderwerke ervaar en doelwitte behaal. Dalk is daar ’n lekker vakansie in jou beplanning of ’n oorsese reis. Daar gaan vir seker ook uitdagings wees.

Ek hoop jy kan nes ek, troos en berusting vind in die mooi woorde van Psalm 121.

En wanneer dinge swaar gaan, wanneer dinge moeiliker is as wat jy verwag het, wanneer die lewe ’n draai vat wat jy nie sien kom het nie, onthou altyd om op te kyk.

Kyk op na die blou hemel.

Kyk op, skemeraand wanneer die lug oranje raak.

Kyk op wanneer die sterre skitter en die vliegtuie flikkerende ligte is wat deur die hemelruim beweeg.

Wéét dan waarvandaan jou hulp sal kom. Onthou dat die Here jou sal beskerm. Hy sal keer dat jy val, selfs al voel jy klein en nietig.

En ek weet, wanneer dit voel of jou voete gly, sal ons Vader jou dra.

Gebed: Vader, dankie vir u oneindige liefde. Dankie dat U altyd daar is vir my en dat U altyd gereed is om my te help. Help my om nooit aan u liefde en getrouheid te twyfel nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS