Wanneer ons bid ... 23 Februarie 2024
Deur Benescke Janse van Rensburg
Bybelteks(te)
JOHANNES 13
Onlangs lees ek ’n rubriek van ’n dagbladleser wat ongelukkig is oor mense wat hulle die reg toe-eien om vir jou in die openbaar te bid. Haar seerste oomblik was toe haar verhouding in die openbaar verbrokkel en iemand nader staan, sy hande oopsprei, op hulle koppe druk en begin bid. Sy beskryf daardie oomblik soos volg: “Terwyl vernedering en seer soos bloed deur my are stroom, was die gebed soos ’n goedkoop pleister wat op ’n gapende wond wat nog nie eens skoongemaak is of steke het nie geplak word.”
Sjoe! Haar storie het my laat dink. Plak ons as gelowiges net goedkoop pleisters waar ons rondbeweeg? Of tree ons werklik só op teenoor mense dat hulle iets van Jesus se liefde beleef? In Johannes 13:34-35 sê Jesus: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Jesus het nooit mense veroordeel nie. Hy het hulle reggehelp, maar definitief nie in die verleentheid gestel nie – dink maar aan die vrou wat weens owerspel gestenig moes word (Johannes 8), die losbandige vrou by die put (Johannes 4) of selfs Saggeus, die roekelose belastinggaarder in die boom (Lukas 19).
Jesus se liefde waarmee Hy teenoor die drie mense opgetree het, het veroorsaak dat hulle lewens ná die ontmoeting met Hom ingrypend verander het. Jesus sê: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Mag ons met hierdie liefde optree teenoor ander – in hulle gebrokenheid, te midde van hulle onsekerheid oor die toekoms en selfs wanneer ons glad nie saamstem met hoe hulle lewens tans lyk nie. Dít bring genesing.
Gebed: Vader God, vergewe my waar ek u kinders in seer, nog seerder gemaak het omdat ek ’n goedkoop pleister wou plak. Vul my met wysheid om te weet hoe ek u liefde op die beste moontlike manier kan demonstreer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen