Bible Society of South Africa

Die seëning van verandering - 22 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

23Die Here bepaal die koers van die mens

met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

PSALMS 37:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Paar maande gelede het ’n vriendin van my en haar man se drome vir hulle ongetroude 19-jarige dogter aan skerwe gelê toe dié by die huis opdaag met die nuus van haar buite-egtelike swangerskap. Daar was baie trane.

Nóú, ’n maand weg van waar hulle grootouers word, kyk hulle anders na die saak. Hulle is dankbaar vir die geskenk van lewe, maar ook vir die geskenk van ’n nouer verhouding met hulle dogter. My vriendin se man beskryf die situasie soos volg: “We don’t always know or like the type of packaging our gift comes in, but the gift is still a blessing.”

Verandering is gewoonlik nie maklik nie – in die werkplek, met ’n verhouding, verskillende seisoene van ons kinders, noem dit. Dit vul ons met vrees vir die onbekende of frustrasie vir die aanpassing. Meestal forseer dit ons uit ons gemaksone. Tog, in retrospek kan dit die wonderlikste ding wees wat met ons gebeur het. Dit laat ons groei. Dit laat ons anders na die lewe kyk. En baiekeer posisioneer dit ons om iets van God se karakter te beleef wat ons nie voorheen geken het nie.

In Psalm 37:23-24 lees ons: “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.”

Kom ons omhels seisoene van verandering – eerder as om dit weg te wens. God is besig om te werk. Hy bepaal ons koers. Hy ondersteun ons. Sou ons val kan ons weet dat Hy ons optel.

Gebed: Vader God, baie dankie vir u goedheid. Help my asseblief om nie my huidige seisoen verby te wens nie, maar om voluit te leef, wetende dat U my dra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS