Bible Society of South Africa

Vertrou God vir môre - 16 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

SPREUKE 27

1Moenie roem oor wat jy môre verwag nie;

jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.

SPREUKE 27:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie bekende teksvers wat dikwels aangehaal word, laat ‘n mens opnuut besef hoe onvoorspelbaar die lewe is en hoe belangrik dit is om nederig te wees. Dit waarsku ons ook om nie oor môre te roem nie, en beklemtoon die werklikheid dat ons nie die toekoms kan voorspel nie. Alhoewel beplanning en die daarstel van mikpunte ‘n goeie gebruik is, moet ons erken dat die uiteindelike beheer oor ons lewens by God berus en nie by onsself nie.

Die wysheid opgesluit in hierdie spreuk, spoor ons aan om nederig bewus te wees van ons beperkings. Ons leef dikwels met die veronderstelling dat ons al die tyd in die wêreld het om ons planne, drome en aspirasies te verwesenlik. Die realiteit is egter dat ons nie weet wat môre, die volgende uur of minuut, gaan oplewer nie. Die onsekerhede van die lewe herinner ons daaraan om op God, die Een wat ons lewens in sy hande hou, te vertrou.

Nederigheid in ons beplanning beteken dat ons God se wil en leiding soek en dat ons erken dat Hy alleen weet wat voorlê. Dit beteken ook dat ons sy tydsberekening vertrou en oop is vir die rigting wat Hy aanwys, selfs wanneer dit van ons eie planne afwyk. Hierdie vertroue op God lei tot ‘n dieper geloof en perspektief. Dit bevry ons van hoogmoed en die angs wat ons beleef wanneer ons probeer om ons eie lot te beheer.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wysheid in u Woord wat ons opnuut daaraan herinner dat ons nederig moet wees en op U moet vertrou. Help ons om u leiding vir al ons planne te soek, elke dag met ‘n hart vol vertroue te leef en met die wete dat U die toekoms bepaal. Leer ons om nederig te leef, en ons beperkings en afhanklikheid van u genade te erken. Gee asseblief dat ons vrede in u almag en vertroue in u liefdevolle sorg sal vind. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS