Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Josef - 8 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

19Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad, 20en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is.

Terwyl Josef daar in die tronk was, 21was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.

GENESIS 39:19-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Josef se lewe is ‘n voorbeeld van geduld en vertroue in God se plan, selfs in tye van teëspoed. Nadat sy eie broers hom as ‘n slaaf verkoop het, bevind Josef hom in Potifar se huis waar hy met toewyding en integriteit werk. ‘n Vals aantyging veroorsaak egter dat hy onregverdig in die tronk beland waar hy, in dié plek wat vir die koning se gevangenes gereserveer is, die harde werklikheid van aanhouding beleef.

Josef se geduld gedurende sy tyd in die gevangenis getuig van sy vaste vertroue in God. Hy het nie toegelaat dat bitterheid of wanhoop sy hart binnedring nie, hy het eerder voortgegaan om te dien en op God se teenwoordigheid en guns te vertrou.

In die gevangenis het God Josef vir die vervulling van sy beloftes voorberei. God het Josef se gawe om drome te kan uitlê, gebruik in die gebeure wat uiteindelik sou lei tot Josef se posisie van mag en invloed, met slegs die farao as sy meerdere.

Josef se lewensreis word beaam in die woorde van Psalm 37:7: “Swyg voor die Here en verwag Hom … ” (1933/53-vertaling) Josef versinnebeeld die beginsel om geduldig op God se tyd te wag en nie mismoedig te word as gevolg van terugslae en moeilike omstandighede nie. Josef het geweet dat God altyd aan die werk is, selfs in die uitdagendste situasies.

Uit Josef se verhaal leer ons dat God se trou nie van ons omstandighede afhang nie. Sy teenwoordigheid en guns is altyd by ons, selfs in die donkerste tye. Terwyl ons geduldig wag vir God se beloftes om vervul te word, moet ons hoop in sy onfeilbare liefde en volmaakte plan geanker wees.

Gebed: Genadige Vader, dankie vir die inspirerende verhaal van Josef en vir sy onwrikbare geduld en vertroue in u plan. Leer ons om vas te staan in ons geloof, selfs in tye van teëspoed en onsekerheid. Ons vra dit in die Naam van Jesus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS