Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Ester - 7 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

ESTER 4

12Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra, 13en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. 14As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”

ESTER 4:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

ie boek Ester bevat ‘n inspirerende verhaal van dapperheid, geduld, gehoorsaamheid en die onsigbare hand van God wat te midde van skynbaar gewone omstandighede aan die werk is. Wanneer die Jode deur totale uitwissing bedreig word, gaan koningin Ester, ten spyte van die gevaar waarin sy haar eie lewe stel, na koning Ahasveros sonder dat sy ontbied is.

In antieke Persië was dit ‘n verbreking van koninklike protokol om die koning te nader sonder dat jy ontbied is. Dit kon erge gevolge, self die dood, tot gevolg hê. Selfs vir die koningin was dit gevaarlik om die koning se binnehof ongenooid te betree. Die koning het die gesag gehad om sy goue septer uit te steek as ‘n teken van aanvaarding en dan sou die persoon leef, of dit te weerhou, wat dan tot die dood sou lei.

Dit is belangrik om daarop te let dat Ester eers nadat sy deeglik voorberei het, gereed was om dapper en moedig te gaan doen wat God spesifiek van haar verlang het. Sy het gebid, gewag en geluister vir die stem van die Here om haar leiding te gee. Slegs toe het sy geweet wanneer dit die regte tyd was vir haar om op te tree.

Ons sien hoe God se plan vervul word wanneer ons in hoofstuk 5 lees hoe die koning gereageer het: “Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.” (Ester 5:2)

Ester se daad om die koning te nader sonder dat sy ontbied is, was uiters belangrik want dit was haar geleentheid om vir die lewens van haar mense, die Jode, te pleit. Haman, die koning se raadgewer, het beplan om die Jode uit te wis, en Ester se ingryping was uiters belangrik om ‘n katastrofe af te weer.

Soos Ester, bevind ons ons ook soms in uitdagende omstandighede wat geduld, moed en vertroue in die wil van God verg. In sulke oomblikke moet ons gehoorsaam en moedig wees, want ons weet dat God by ons is, selfs al kan ons Hom nie sien nie.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die inspirerende verhaal van Ester, dat sy gehoorsaam en dapper was in die uitvoering van u plan. Help ons om U, die almagtige Opperwese, te vertrou, selfs wanneer u teenwoordigheid nie duidelik sigbaar is nie. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS