Bible Society of South Africa

Sonder aansien van persoon - 28 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 10

Petrus se toespraak by Kornelius

34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie,

HANDELINGE 10:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die uitbreiding van die kerk van Jesus verloop in drie fases, want so het Jesus met sy hemelvaart die opdrag aan die dissipels gegee. Eers Jerusalem en dan Judea en Samaria. Daarna lê die grootste deel van die werk nog voor. Tot aan die uiteindes van die aarde – Heidenland. As dit vir die gelowiges dalk al moeilik was om met die Samaritane te gaan praat, was die idee om in ‘n heiden se huis te moet ingaan ‘n haas onmoontlike struikelblok, maar wanneer die Gees oorneem is niks onmoontlik nie.

Dit begin met Filippus wat eers in Samaria gaan preek en dan later so ver gaan om by die Ethiopiër op die wa te klim. Die volgende op die Gees se lys is die leier van die kerk self. Petrus, die man op wie se belydenis die kerk gebou word, maar ook Petrus die rasegte Jood wat nog steeds oortuig is dat die spyswette en die reinheidswette streng nagekom moet word. Sonder dat hy geweet het van die afvaardiging vanaf die Romeinse kaptein Cornelius wat na hom op pad was, het Petrus een middag so teen twaalfuur na die dakstoep van die huis opgeklim om te bid.

Daar ontvang hy ‘n visioen van ‘n doek wat uit die hemel neerdaal, vol van allerhande diere en voëls. Saam daarmee kom die stem wat sê dat hy moet slag en eet. Petrus se reaksie is onmiddellik: “Onder geen omstandighede nie Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of onrein is geëet nie.” (Handelinge 10:14) Maar Petrus se beswaar word nie gehandhaaf nie. Die stem kom weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie”. (Handelinge 10:15b) Dit alles het drie maal gebeur.

Ons ken die res van die verhaal. Petrus wat die groot belydenis oor Jesus as die Christus gedoen het doen nou weer ‘n belydenis wat vir die kerk van alle eeue uiters belangrik is: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is.” (Handelinge 10:34-35)

Gister het ons gevra wat ons elkeen gaan doen om in ons land ‘n verskil te maak na die verkiesing. Kom ons doen spesiaal moeite om in die mooi land ook vir mekaar aanvaarbaar te wees soos wat ons aanvaarbaar is vir God.

Gebed: Wat ‘n vreugde is dit nie om te weet dat U nie omgee wie ek is, hoe ek lyk of watter taal ek praat nie. Dankie Here Jesus dat U my ook rein gemaak het. Ons bid dat alles môre tydens die verkiesing vreedsaam sal verloop. Amen

 

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS