Bible Society of South Africa

Ons betrokkenheid in die wêreld - 27 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 8

5So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het.

HANDELINGE 8:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oormôre is verkiesingsdag. Moet die kerk enigsins by politiek betrokke raak? Baie mense sê ja en ander sê nee. Ek skaar my by die wat nee sê. Dit beteken nie die kerk moet heeltemal buite dit wat in die land en die wêreld aangaan staan nie.

Die kerk het wel ‘n baie belangrike rol te speel. Die rol is om in die wêreld te strewe na liefde vir mekaar en daardeur ander te leer om eensgesind te wees en mekaar lief te hê. Die meeste mense sal sê dit is ‘n pypdroom, want van die begin van die sogenaamde beskawing was daar geen tydperk sonder oorloë, geweld en onenigheid nie. Selfs die volk van God in die Ou Testament was gedurig in konflik met die volke rondom hulle. So wat nou?

Met die vervolging in Jerusalem word die gelowiges soos saad uitgestrooi en op elke plek waar die saad val, word die evangelie verkondig. Daar val ook saad in Samaria, want Jesus wil ook die Verlosser van die Samaritane wees. Het die saad hoegenaamd op goeie grond geval? As jy vir ‘n Jood van daardie tyd die vraag gevra het, sou hy sekerlik geantwoord het dat dit ‘n mors van saad was. Jood en Samaritaan het nie langs dieselfde vuur gesit nie.

Die redes hiervoor was uiteenlopend. Deels was dit polities van aard maar veral godsdienstig. Volgens die Jode het die Samaritane die geloof in die God van Israel vermeng met heidense elemente. ‘n Jood sou nooit met ‘n Samaritaan saam gesien word nie. Christus het nooit omgegee met wie hy saam gesien word nie, hy het immers vir alle mense aan die kruis gesterf. Daarom wil Hy hê dat in sy kerk mense van uiteenlopende sienings mekaar moet omarm. Wanneer dit gebeur gee die Gees die volle vrug aan die kerk. In Samaria word bose geeste uitgedryf, siekes gesond gemaak en die ou mure van skeiding afgebreek.

Wat gaan ek na verkiesingsdag in my land doen om die akker so voor te berei dat die vrug van die Gees ook hier volledig sigbaar kan raak?

Gebed: Hemel Vader, ek smeek U dat U ook vir my sal gebruik om in ons land vrede te bring. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS