Bible Society of South Africa

Soek vrede - 3 September 2024

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

JOHANNES 14

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

JOHANNES 14:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Hebreeuse woord “shalom” is ‘n groetwoord wat Jode regoor die wêreld gebruik. In die wydste sin beteken dit vrede, maar die woord beteken soveel meer as dit.

Dit verwys ook na volledigheid of heelheid. Dit idee is dat dit na welstand in sy volle omvang verwys. Is dit nie mooi nie? Lewensbelangrik sou ek sê, want toenemend bewys statistieke dat dit nie goed met die mensdom gaan nie.

Die afgelope jaar is van my vriende en familie deur siekte aangeval: sommige tot die dood toe siek. Op ‘n stadium het dit vir my gevoel asof die slegte nuus net nie wil einde kry nie. Om nie eers te praat van al die oorloë en gerugte van oorloë wat dié jaar sover kenmerk nie.

Oorlog en vrede gaan blykbaar hand aan hand soos sout en peper, of knoffel en gemmer. Die gewone gang van die lewe: die mens streef voortdurend na vrede, maar skiet jammerlik te kort. Is jy bekommerd of ontsteld? Is jy bang? Het jy vrede in jou lewe? Indien nie, wat steel jou vrede?

Jesus van Nasaret was op hierdie aarde en het hierdie vrede gehad, wat Hy, volgens ons teksvers, voor sy dood aan sy dissipels gegee het. Vir Jesus se volgelinge is dit bemoedigend want alhoeweld daar nie vrede in die wêreld is nie, gee Hy aan ons vrede wat die wêreld nie kan nie.

Shalom (vrede) beteken soveel meer as net die afwesigheid van oorlog. Dit verwys na harmonie tussen mense, maar op ‘n ander manier ook na vryheid van geweld, wat die idee van kalmte omvat. Ek glo egter vrede kan slegs waarlik ondervind word as ons die pad met God, die Een wat hierdie vrede het, loop. Dit is ook ‘n vrug van die Gees (Galasiërs 5:22) vir diegene wat deur die Gees leef.

Daar was goeie nuus vir somminge van my ernstig siek geliefdes na wie ek voorheen verwys het. God het die smeekgebede van so baie gelowiges gehoor en Hy het hulle deur sy genade genees. Ek het met vreugde herontdek dat dieselfde Jesus wat duisende jare gelede op die aarde was en siekes genees het, dit vandag steeds doen.

Dieselfde Jesus wat gesê het Hy sal aan ons vrede gee, doen dit vandag steeds. God wil ons steeds seën en aan ons vrede gee.

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” (Numeri 6:24-26)

Gebed: Vader, dankie dat u Seun dieselfde is vandag, môre en vir altyd. Dankie vir die vrede wat Hy so vrylik aan ons gee. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS