Bible Society of South Africa

Oorlog in die hemel - 2 September 2024

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 12

7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

10Toe het ek 'n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het:

“Nou het ons God die redding gebring,

nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde!

Die aanklaer van ons medegelowiges

is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

DIE OPENBARING 12:7-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oorlog in die hemel! Laat dit jou ook twee keer dink? Daar woed ‘n oorlog in die idilliese plek waarvan sommige van ons reeds van kindsbeen af hoor. Is dit nie teenstrydig met alles wat ons nog ooit hiervan gehoor het nie?

Die Bybel openbaar egter dat op ‘n dag, baie lank gelede, dit presies is wat gebeur het. Engele is uitgestuur om vir die waarheid, die hemel en vir hulle God te veg. Volgens ander gedeeltes is ‘n derde van die engele saam met die haatgevulde Satan wat God wou wees, uit die hemel geskop en op die aarde gegooi. Die aarde was nooit weer dieselfde nie.

Nou wat het gebeur wat Satan laat dink het hy is God en hoekom was hy so korrup in sy hart? Ons weet nie, maar ons weet wel dat sonde in hom gevind is. Daar word wyd geglo dat Satan een van die mooiste engele was en dat hy begin glo het hy is baie spesiaal en hoogmoed toe by hom posgevat het.

Van die oomblik dat hy hom teenoor God gestel het tot vandag toe ly ons onder die gevolge van daardie sonde – en die verlies aan vrede. Onlangs vra ‘n vriend my: “Hoekom vergewe God nie net vir Satan nie?” Ek wonder of Satan ooit vergifnis wil hê. So vredeliewend as wat God ook al mag wees, Hy sal nooit iets ten koste van sy skepping doen nie. Dit lyk vir my asof die duiwel steeds ‘n skelm is wat geen berou toon nie en steeds God en sy kinders haat.

Wonder jy ook hoekom daar nie vrede in hierdie wêreld is nie? Wel, daar is ‘n antagonis wat reeds vir duisende jare die mensdom dophou en hy het ons omtrent in ‘n gemors laat beland. Sy haat vir God ken geen perke nie, en hy ontsien geen moeite om vir God se kinders leuens te vertel, hulle te mislei en van hulle te steel nie. Hy gee nie om vir ons nie, en die grootste leuen wat hy ooit gefabriseer het, is dat hy nie bestaan nie. Daar kan geensins met hierdie skelm onderhandel word nie. Ons sal wys wees om ag te slaan op die woorde van Thomas Fuller: “It is madness for sheep to talk peace with a wolf.” [Dit is malligheid vir skape om oor vrede met ‘n wolf te praat.] (Vry vertaal.])

In sy mees basiese vorm beteken die Hebreeuse woord, “shalom”, vrede. Ons gaan hierdie maand probeer om die ware betekenis van “shalom” te ontdek.

Gebed: Hemelse Vader, ons weet dat die dag toe sonde in die duiwel gevind is, en hy en sy onderdane teen U gerebelleer het, alles verander het. Van toe af ontwyk vrede ons, maar dankie Here dat ons na U toe kan kom en vrede by U kan vind. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS