Bible Society of South Africa

So na verkiesingsdag: Kom ons praat oor 'n nuwe koninkryk - 3 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

Die bergrede

1Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:

Die werklik gelukkiges

3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

MATTEUS 5:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Suid Afrika het ons so pas, op 29 Mei, ons algemene verkiesing gehad. Vir maande lank was daar plakkate teen die lamppale, en advertensies op die radio. Politici het baie blootstelling gekry om hulle agendas aan die publiek bekend te stel. Baie uiteenlopende menings is gehoor oor hoe die toekoms van Suid Afrika behoort te lyk. Die een ding wat vir my uitgestaan het, is die soeke wat elke mens na hoop het. Elkeen wil graag ‘n beter toekoms sien vir sy geliefdes.

Ons Here Jesus het in een van die donkerste tye van die wêreld se geskiedenis na hierdie wêreld toe gekom om ‘n ware alternatief te bring. In die Provinsie van Judea, deel van die magtige Romeinse Ryk, het Hy langs die See van Galilea gaan sit, en die mensdom geleer van daardie alternatief. Ons gaan in hierdie maand saam begin kyk na hierdie boodskap van Jesus, die Bergrede, daar in Matteus 5-7.

Die sleutel tot God se koninkryk word vir ons gegee in Matteus 5:3. Ons is geseënd, ons kom in pas met God se plan, wanneer ons ontdek hoe afhanklik ons van die Here is. In Genesis 3 het ons geleer hoe die mens onafhanklik van die Here wou lewe. Hoe die mens gekies het teen die heerskappy van God, en hoe daardie rebellie ons duur te staan gekom het. Ons is nie gemaak om sonder die Here te lewe nie. Buite sy wil is daar ‘n wrede wêreld van selfsug, haat en dood.

Wanneer ons Here Jesus na hierdie wêreld toe kom, dan is dit om God se liefde weer nuut met ons te deel. Hy wil so graag die verhouding tussen God en sy kinders kom herstel. Ons is tog gemaak om naby aan die Here te lewe, om volgelinge in Jesus se voetspore te wees. Die begin van ons geloofsreis vind plaas wanneer die Here ons weer op ons naam roep om Hom te volg. Wanneer ons weer diep bewus word van sy liefde, en sy omgeehart as ‘n hemelse Vader ontdek. Jesus het na hierdie wêreld toe gekom met die boodskap: God het jóú lief sonder dat jy enige iets hoef te doen om sy liefde te verdien. Jy kan niks doen om daardie liefde te koop nie. Jy kan dit net met leë, oop hande ontvang. Wanneer ons ons klein menslike handjie in die hand van ons Verlosser plaas, dan lei Hy ons op ‘n nuwe pad. Langs hierdie pad is daar vir ons genesing, heel word van ons seer. Hy kom gee vir ons nuwe hoop, en ‘n rede om met dankbaarheid te lewe.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U na hierdie wêreld toe gekom het om God se liefde vir my bekend te maak. Dankie dat U my op die naam geroep het, om U te volg. Here, ek is klein en nietig, maar dankie dat ek my hand vol vertroue in u hand mag plaas, en mag volg waar U my lei. Dankie dat ek afhanklik van U mag wees, en daarom u seën beleef. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS