Bible Society of South Africa

Refleksies oor getrouheid - 29 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

12Ek wil dink aan die dade van die Here,

ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër.

13Ek wil nadink oor al u werk

en oor al u dade peins.

PSALMS 77:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ons beproef word, help dit om na te dink oor al die kere wat God sy krag en getrouheid in ons lewens of in die geskiedenis, geopenbaar het. Die psalmdigter neem hom voor om te onthou dat God se dade ‘n kragtige herinnering daaraan is dat ons ‘n geskiedenis met Hom het – ‘n geskiedenis gevul met voorbeelde waar Hy daar was vir ons, gebede beantwoord het, sy liefde aan ons bewys en in ons behoeftes voorsien het.

Deur na te dink oor God se getrouheid in die verlede versterk nie net ons geloof nie, maar dit verseker ons ook dat dié God wat regdeur die geskiedenis by sy kinders was, dieselfde God is wat steeds saam met ons die pad loop. Net soos Hy in die verlede wonderwerke gedoen en vir sy kinders voorsien het, is Hy steeds in staat om wonderwerke in ons lewens te doen en in ons behoeftes te voorsien.

Deur die Bybel te lees en oor sy werke te reflekteer, help ons om die fokus van ons omstandighede na sy grootheid te verskuif. Dit herlei ons gedagtes, weg van al die bekommernisse en twyfel na vertroue in sy krag. Wanneer ons oor sy magtige dade nadink, word ons opnuut herinner aan sy almag, wysheid en liefde. Dit verdiep ons begrip van sy karakter en versterk ons geloof in sy vermoë om alles ten goede te laat meewerk.

Kom ons dink na oor God se getrouheid. Dink oor die kere in jou eie lewe wat God jou gebede beantwoord het. Mag hierdie oordenkings ons vertroos, ons harte met dankbaarheid vul en ons vertroue in Hom vir vandag en vir die toekoms versterk.

Gebed: Hemelse Vader, wanneer ons oor u magtige dade nadink, vul ons harte met dankbaarheid en versterk ons geloof. Ons glo dat U steeds dieselfde God is en dat U vandag saam met ons die pad loop en dat U ook in die toekoms vir ons sal voorsien. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS