Bible Society of South Africa

'n Tyd en 'n plek – 19 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

GENESIS 28

16Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

GENESIS 28:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Die afgelope aantal weke het ons verskeie aspekte van tyd bespreek, sowel as God se tydsberekening. Vir die res van die maand gaan ons kyk hoe God se teenwoordigheid en leiding in die Bybel dikwels met verskillende plekke verbind word.

Hierdie gedeelte verwys na ‘n deurslaggewende oomblik in Jakob se lewe. Jakob, op vlug van sy broer Esau nadat hy hom bedrieg het, bevind homself alleen met ‘n klip as ‘n kopkussing waar hy onder die sterre lê en slaap. Gedurende die nag het hy ‘n kragtige droom. Hy sien ‘n leer wat van die aarde na die hemel reik, vol engele wat op en af daarop beweeg. Bo die leer was die Here wat met Jakob praat en die belofte wat Hy met Abraham en Isak gesluit het, nou ook na Jakob uitbrei. Toe Jakob wakker skrik, het hy besef dat hy in hierdie afgeleë en ongewone plek die lewende God ontmoet het.

Hoe dikwels gaan ons deur die dag onbewus van die heiligheid van die plekke waar ons ons bevind? Jakob se ondervinding herinner ons daaraan dat God teenwoordig is, selfs wanneer ons dit aanvanklik nie besef nie. Te midde van ‘n gewone, miskien uitdagende oomblik, het Jakob besef dat die grond waarop hy lê heilig is want die lewende God was teenwoordig.

Uit Jakob se reaksie – vrees, ontsag, en sy verklaring dat dié plek “is niks anders nie as die huis van God” – leer ons iets belangrik: God se teenwoordigheid word nie beperk tot vanselfsprekende plekke soos kerke of tye van aanbidding nie. Hy is by ons in ons huise, werkplekke en selfs te midde van ons oomblikke van stryd en vrees. Soms neem dit so ‘n oomblik om wakker te skrik en te besef dat die plek waar ons staan, heilig is.

Gebed: Hemelse Vader, open my oë sodat ek U kan sien in die plekke waar ek my elke dag bevind. Help my om te besef dat U in beide die gewone en buitengewone oomblikke van my lewe teenwoordig is. Gee dat ek nooit die heilige grond waar ek my bevind as vanselfsprekend sal aanvaar nie, want U is altyd by my en u teenwoordigheid verander elke plek in ‘n heilige plek. Leer my om meer bewus te wees van u teenwoordigheid en, net soos Jakob, met ontsag en eerbied daarop te reageer. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS