Bible Society of South Africa

'n Onseker toekoms - 2 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit wil voorkom asof 2023 die jaar van KI is. Kunsmatige intelligensie, wat enigiets kan doen van die bou van ‘n webwerf in sekondes tot die skep van musiek of beelde deur die gee van ‘n eenvoudige opdrag, is nou vir almal beskikbaar. Ek persoonlik, vind die pas van tegnologiese veranderinge opwindend, maar terselfdertyd angswekkend – en definitief oorweldigend. Dit is soos ‘n heel nuwe wêreld.

Die Israeliete wat eerste hierdie woorde van Jeremia gehoor het, het ook baie uitdagings in hulle tyd beleef. Hulle is deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer, weg van hulle vaderland en hulle manier van leef. Hulle het hulle in ‘n vreemde land bevind, omring deur ‘n ander kultuur en denkwyse. Dit moes groot onsekerheid en angs tot gevolg gehad het.

In ‘n steeds veranderende wêreld vol onsekerheid, bied hierdie teksvers ons troos en gerusstelling. Dit herinner ons dat dit nie saak maak waardeur ons gaan nie, God het ‘n plan met ons lewens.

Self te midde van hulle stryd, het God ‘n plan vir hulle toekoms gehad. Agter die skerms was Hy aan die werk om sy volk te herstel en aan hulle hoop te gee. Op dieselfde manier het Hy ‘n plan vir ons, ten spyte van enige uitdagings wat ons moet hanteer.

So kom ons put vandag troos uit die wete dat God altyd aan die werk is, selfs wanneer ons dit nie kan sien nie. Kom ons vertrou Hom om ons te lei, selfs wanneer die wêreld om ons heeltemal verander. Kom ons bid dat ons die nodige geloof sal hê om, net soos die Israeliete baie jare gelede, in sy plan vir ons lewens te kan glo.

Gebed: Liewe Heer, dankie vir u belofte in Jeremia 29:11. Dankie dat U ‘n plan met ons lewens het, selfs wanneer alles so onseker lyk. Help ons om U te vertrou en u leiding te volg en gee dat ons sal besef dat U ons belange voorop stel. Gee aan ons die geloof om in u plan vir ons lewens te glo, selfs wanneer ons dit nie kan sien nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS