Bible Society of South Africa

Moenie moed opgee nie - 3 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

Lewe deur die geloof

16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

2 KORINTIËRS 4:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die vroeë tyd van die kerk, het baie gelowiges verskriklike vervolging en teëstand beleef. Hulle is geslaan, gevange geneem en selfs doodgemaak ter wille van hulle geloof. Dit was werklik moeilike tye, en dit is dus geen wonder dat sommiges wou tou opgooi en moed verloor het nie.

In vandag se gedeelte moedig Paulus die Korintiërs aan om te volhard en, selfs in die aangesig van teëspoed, nie moedeloos te word nie. Hy herinner hulle daaraan dat hulle probleme slegs tydelik van aard is, en dat daar ‘n ewige heerlikheid op hulle wag. Hy dring by hulle aan om hulle oë op die onsigbare dinge te rig, op die hoop wat hulle in Christus het, eerder as op die probleme van hierdie wêreld.

Ons kan ook deur Paulus se woorde bemoedig word, veral in moeilike tye. Wanneer die lewe ons wil oorweldig en ons probleme te groot is om te dra, moet ons onthou dat ons hoop nie in hierdie wêreld is nie, maar in Christus. Ons moet God vertrou dat Hy aan die werk is, selfs al kan ons dit nie sien nie, en dat Hy ons swaarkry sal gebruik om ons al hoe meer na sy beeld te vorm.

Kom ons rig ons oë op die onsigbre dinge. Laat ons op God se volmaakte plan vir ons lewens vertrou, selfs wanneer dit moeilik is om raak te sien. Laat ons deur al ons probleme volhard, omdat ons weet dat dit tydelik is en daar ‘n ewige heerlikheid wat alles oortref op ons wag.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u belofte dat U altyd by ons is, selfs te midde van al die swaarkry. Help ons om ons oë op die onsigbare te rig, op die hoop wat ons in U het. Gee ons die krag om deur al ons beproewinge te volhard, omdat ons weet dat dit tydelik is en op ‘n heerlikheid wat alles oortref, sal uitloop. Help ons om op u volmaakte plan vir ons te vertrou, selfs al kan ons dit soms nie sien nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS