Bible Society of South Africa

Moenie 'n persoonlikheid volg nie - 20 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

4As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

1 KORINTIËRS 3:4-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Onlangs het ek in die strik getrap, iets wat so maklik met ons as mense gebeur: ek het ‘n persoon bo God vereer.

‘n Videogreep het onder my aandag gekom waar ‘n predikant op ‘n meesterlike manier ‘n ateïs se navraag oor die oorsprong van God met verwysing na materie, tyd en ruimte beantwoord het. Soos julle julle kan voorstel, ek was heeltemal oorweldig.

Die teoloog het met soveel empatie en met soveel selfvertroue geantwoord en dit het my met bewondering vervul. Sy akademiese agtergrond en persoonlikheid het my ook onmiddellik beïndruk.

En so het ek die punt van hoe groot God is, gemis. Dit is verder beklemtoon toe ek die videogreep met vriende deel en een onmiddellik opgemerk het dat op grond van hierdie uitgangspunte geneem uit die Bybel ‘n mens geen probleem behoort te hê om hierdie groot God te vertrou nie. Inderdaad ‘n kragtige geloofsverklaring.

Dit was iets om oor na te dink. Instede om oor die goedheid en grootheid van God te mediteer, het dit vir my gegaan oor ‘n persoon se vermoë om ‘n baie goeie argument te voer. Dit was vir my ‘n bewys hoe maklik dit is om op die vermoë van mense, eerder as op die heerlikheid en goedheid van God, te fokus.

Miskien is dit hoekom ons in Jesaja 53 lees dat Jesus nie ‘n fisiese voorkoms gehad het wat ons aandag van sy boodskap sou aflei nie. Moses het gehakkel wanneer hy praat en die twaalf apostels was ‘n diverse groep met baie foute.

Wat van Paulus? Na alles wat ek van hom in die Bybel lees, is ek seker dat as ek hom sou ontmoet ek heeltemal deur sy teenwoordigheid geïntimideer sou wees. En tog sê 2 Korintiërs 10:10 (2020-vertaling) “Want, sê hulle: “Sy briewe is gewigtig en streng, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak, en sy woorde niks werd nie.” In Galasiërs 6:11 wil dit voorkom asof Paulus se sig swak was vandaar die groot letters. “Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif!”

Ek is regtig bly dat gewone mense in die hande van ‘n buitengewone God groot dinge kan doen.

Gebed: Here, dankie dat U ons gebruik net soos ons is, en dat ons almal ‘n rol te speel het in u koninkryk. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS