Bible Society of South Africa

Mense met sagte harte oorwin die wêreld - 5 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

5Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Tans is die manier van hierdie wêreld om deur mag dit te vat wat jy graag wil hê. Die een met die meeste wapens wen. Die een wat die hardste skree, word gehoor. Die een wat die meeste intimideer, en vrees kan inboesem, se saak seëvier. Dit was deur die geskiedenis nog altyd so. Wêreldryke is met militêre mag opgebou, en dan deur vrees en intimidasie in stand gehou. Wanneer Jesus hierdie woorde met die wêreld deel, is die magtige Romeinse Ryk in beheer van die streek. Hulle het enige opstande wreed onderdruk, en mense is in die openbaar gekruisig om die bevolking verlam van vrees te hou. Dit was destyds, en is vandag, die wêreld van die sterk man.

Dit is waar God se koninkryk so anders is. Hierdie boodskap sou so skokkend wees vir die skare mense wat daar om Jesus gesit en luister het na die boodskap van die nuwe koninkryk van God. Hulle het ‘n verwagting gehad dat ‘n Messias sou kom, ‘n sterk leier wat die volk bymekaar sou maak, en dan met mag die Romeine oorwin en uit die land uit jaag. Die Here bou egter nie sy koninkryk met mag nie. Jesus sê dat ons juis geseënd is wanneer ons sagmoedig van hart is. Sagmoedigheid kom nie sommer net vanself nie. Ons het van nature harde harte, wat op onsself en ons eie begeertes gerig is. Die Heilige Gees kom verander ons – Hy haal die hart van klip uit en gee vir ons ‘n nuwe hart (Esegiël 36:24). In die Bybel sien ons ‘n hele paar manne wat as sagmoedig beskrywe word, Moses word as die mees sagmoedige mens op aarde beskryf (Numeri 12:3). Met sagmoedigheid is ons harte plooibaar in die Here se hande. Ons kry ‘n omgeehart, wat sag met ons naaste werk. Ons is beskikbaar dat die Here ons kan gebruik om ons naaste te seën.

Sagmoedigheid beteken nie dat ons lafhartig word en vir alle gevaar weghardloop nie. Dit beteken nie om swak te wees en in die lewe rondgeskop te word nie. Inteendeel, sagmoedigheid getuig van iemand wat innerlik sterk is deur die Gees. Sagmoedige mense is dapper in hulle verdediging van dit wat reg is. Sagmoedigheid is ‘n gesonde verstaan van my identiteit in Christus, en dit raak my manier van optree teenoor my naaste. Ons is volgelinge van ons Here Jesus, Hy wat Homself bekend gestel het as sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:29). Ons volg in sy voetspore, Hy is ons Rolmodel.

Iemand wat sagmoedig is, is nederig. Hy of sy is dankbaar en tevrede. In daardie sin het ons reeds die nuwe aarde ontvang. Ons is bewus van die Here se teenwoordigheid, sy versorging, en sy leiding op ons lewenspad. Ons het alles wat ons nodig het om Hom te dien, en voluit te lewe!

Gebed: Here, dankie dat U my hart van klip verwyder het, en my help om my soeke na eer en mag te oorwin. Dankie vir die nuwe hart wat U in my geplaas het. Mag my hart altyd sag en plooibaar in u hande wees, dat ek ‘n omgeehart vir my naaste sal hê. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS