Bible Society of South Africa

Die dieper dors - 6 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

Die wêreld waarin ons lewe, is vandag ‘n donker plek. Daar is tans soveel haat, en geweld in baie gemeenskappe. Die meeste moeilikheid in hierdie wêreld kom deur die drifte en drange van mense. In elkeen van ons se eie lewens kan ons die kere onthou wat ons buite God se wil beweeg het en seergekry het. Dit wat verkeerd is, maak ons seer. Hoe weet ons wat verkeerd is? Die Bybel leer ons hoe om te lewe. Die Heilige Gees herinner ons wat die waarheid is, gee ons krag om versoekings te oorwin en krag om te volhard op die regte pad. Die Here het ook vir ons ‘n gewete gegee wat ‘n instinktiewe aanvoeling vir reg of verkeerd gee.

Wanneer ons met die duisternis van hierdie wêreld te doen kry, dan sê die Woord, die Heilige Gees en ons gewete vir ons: dit hoef nie so te wees nie! Daar is ‘n beter alternatief!

Kinders van die Here smag na ‘n wêreld waarin die liefde van die Here oorwin. Wanneer ons honger en dors na wat reg is, dan smag ons met ons hele hart na ‘n wêreld wat in harmonie met God se wil is. God is liefde, sê 1 Johannes 4:7. Ons is oorspronklik gemaak na sy beeld. Ons is gemaak om lief te hê. Dit is ook Jesus se groot opdrag in Johannes 13:34 – Hy beveel ons om mekaar so lief te hê soos wat Hy ons het. Liefde eer die Here. Liefde bou my naaste op, en maak hulle lewe beter. Liefde maak my eie lewe mooi. Liefde kan die wêreld verander!

Baie breedweg gestel identifiseer amper twee miljard mense as Christene op die wêreld se sensusvorms. Hoe sou dit lyk as al twee miljard gelowiges ‘n honger en dors gehad het na dit wat reg is? Hoe anders sou die wêreld nie wees wanneer ons ons naaste se belange bo ons eie stel, en mekaar dien soos wat Jesus die voorbeeld gestel het nie? Watter verskil kan daar nie wees wanneer mense vergewe, en die haat en woede laat staan nie? ‘n Ander wêreld is moontlik as wat ons nou ken. Maar dit vra van God se kinders om te begin honger en dors daarna. Dit vra van ons om te begin bid: “Laat u koninkryk kom en u wil geskied.” Dit vra van ons om self in beweging te kom, en self te doen wat reg is – om met liefde teenoor almal te lewe.

Jesus se belofte is dat ons versadig sal word. As ons die wil van God soek, as ons daarvoor bid en daaraan werk, dan sal ons daar uitkom. Die wêreld verander dalk stadig. Ons eie lewens kan met die hulp van die Here baie vinnig verander. Die nuwe wêreld van God moet êrens begin. Waarom nie in die manier waarop ek dink en optree teenoor ander nie?

Gebed: Here Jesus, U het gekom om hierdie stukkende wêreld weer heel te maak. In die proses gebruik U ook vir ons, u dissipels, om ‘n verskil te maak. Here, ons honger en dors na ‘n beter wêreld, waarin liefde oorwin. Help my om vandag met liefde op te tree en ander te dien. Help my om vandag die verskil in my gemeenskap te wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS