Bible Society of South Africa

Lei my op die regte pad - 14 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

MATTEUS 6:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons lewe van geloof is ‘n wandel saam met Jesus op ons lewenspad. Dit is ‘n lewenswyse. Hierdie lewe gebeur nog steeds in hierdie wêreld, en ons as kinders van God word nie gespaar van al die gevare en versoekings wat oor ons pad kom nie.

Met die sesde bede bid ons dat die Here ons op die regte pad sal lei. Ons vra vir Hom om ons as mense die wysheid te gee om die regte van die verkeerde te onderskei. Versoekings kom oor ‘n mens se pad, daar is gereeld uitnodigings om verkeerde dinge te doen, al is ons hoe lank ook al God se kind. Ons vra die Heilige Gees om ons bewus te maak van keuses in ons lewens wat nie tot eer van die Here gaan wees nie, en nie tot opbou van my naaste of myself sal strek nie. Ons vra die Here om ons sensitief te maak vir die stem van die waarheid elke dag.

Dawid het dit ook so mooi aan die einde van Psalm 139 gebid: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Psalm 139:23-24) Met Jesus se sesde bede bid ons dat ons voete stewig op die regte fondament gevestig sal wees, dat ons die wysheid sal hê om die regte pad te onderskei en dit met volharding te loop.

Daar is deesdae baie debat daaroor of die Bose ‘n persoon of ‘n onpersoonlike mag is. In die Matteus evangelie is dit vir my duidelik dat dit ‘n persoon is, wat teen die planne van die Here werk. Jesus leer ons om te bid dat die Bose se invloed in ons lewe gebreek sal word, dat ons van sy invloed verlos sal word. Wanneer ek bid dat ek van die Bose verlos word, dan vra ek die Here dat Hy my sal beskerm teen die aanvalle van die Bose in my lewe. Hierdie gebed vra ook ‘n stuk selfondersoek, dat ek niks in my lewe sal toelaat wat vir die Bose ‘n vashouplek gee nie.

Wanneer ons hierdie bede bid, is dit belangrik om te onthou wat Jakobus 1:13-14 ons leer: “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.”

Met hierdie daaglikse gebed vir beskerming teen versoeking en die mag van die Bose begin ons die dag met die oog gerig om vandag die waarheid te soek, en dit uit te leef. Ons bid vir opregtheid in ons wandel vandag, en oorwinning oor alles wat die Here nie sou eer in my lewe vandag nie.

Gebed: Here Jesus, dankie dat ek vandag in u lig kan lewe. Wys die gevaarlike plekke en die donker kolle in my lewe vir my uit. Lei my voete vandag op die regte pad tot die eer van u Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.25.2
VOLG ONS