Bible Society of South Africa

Die Here is ernstig oor vergifnis! - 15 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

MATTEUS 6:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Mens kan nie een oomblik besig wees om te bid, en dan uit jou binnekamer kom met ‘n wrok in jou hart teenoor jou medemens nie. Jesus het ons in Matteus 6:12 geleer om daagliks in gebed te vra: Vergewe my, soos wat ek my naaste vergewe … Wanneer die gebed dan klaarmaak, dan herhaal Jesus hierdie belangrike beginsel.

Petrus het op ‘n dag vir Jesus gevra: “Hoeveel keer moet ek my naaste vergewe? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21) Hiermee het Petrus gedink hy stel die mikpunt baie hoog. Hy het verwag dat Jesus hom sou prys vir so ‘n grootse gebaar. Die Fariseërs van die dag het geleer dat ‘n mens iemand tot drie keer vergewe vir ‘n oortreding, daarna is dit geregverdig om terug te betaal in eie munt. Daar was fout met Petrus se redenasie. Hy het gedink dat vergifnis iets is wat gemeet, geweeg en getel kan word, en dat daar by ‘n einde daarvan uitgekom kan word.

Ons Here Jesus se antwoord was dat daar nie sewe maal nie, maar sewentig maal sewe keer vergewe moes word. Dis nie ‘n wiskundesom met die antwoord as vier honderd en negentig keer nie. Jesus gebruik twee perfekte getalle in die manier van dink van destyds, tien en sewe. As hulle vermenigvuldig word met mekaar, en weer met sewe, dan is die bedoeling om te vertel van volmaakte vergifnis. Jesus gee ons nie vrypas om ons broer te haat by 491 keer se oortredings nie. Oor en oor leer ons in die Bybel dat ons grenslose genade ontvang, en dat ons daarom ook moet leer om vergifnis na ons naaste toe aan te stuur.

Ek weet dit is soms baie moeilik om sekere oortredings te vergewe. Ons het natuurlik steeds toegang tot regsprosesse waar daar misdaad teen ons gepleeg is. Die staat het by die Here die opdrag gekry om wet en orde te handhaaf, en reg en geregtigheid te laat geskied. (Lees Romeine 13 hieroor.)

Ons vergewe om self vry te wees. Wanneer ons vergewe en nie self wraak neem nie, kan die Here van die wêreld ‘n beter plek maak. ‘n Wonderlike wêreld is moontlik waar ons Romeine 12: 21 uitleef: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Gebed: Here, U het my so duur gekoop aan die kruis, en U het my so baie kere al vergewe waar ek gesondig het. Dankie vir u genade vir my wat geen grense bereik nie. Help my nou om gehoorsaam te wees, en my naaste te vergewe. Here, ek het die krag van die Heilige Gees nodig om my ou, sondige natuur hierin te oorwin. Ek wil binne u wil lewe, en groei, en vrug dra tot u eer. Help my deur u Gees om dit reg te kry. Amen

Bible Society of South Africav.4.25.2
VOLG ONS