Bible Society of South Africa

Leef voluit: Ken jou hart en verstand - 22 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

JEREMIA 17

10Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand,

Ek laat die mens kry wat hy verdien,

wat hom toekom vir wat hy doen.

JEREMIA 17:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

By die huis het ons ‘n ou staanhorlosie wat met ouderdom toenemend temperamenteel raak. Dit raak soms deurmekaar en lui dan die verkeerde aantal kere op ‘n gegewe uur, of dit hou aan tik, maar lui glad nie. Nog erger is dat dit soms vir geen rede stop nie. Ons kan dit dus nie vertrou om te doen waarvoor dit bedoel is nie, en dit hou vir ons gevolge in. Ek het tot die slotsom gekom dat die ou horlosie sy eie “gedagtes” het en dat dit aandag benodig!

Maar wat van ons denke?

Indien dit deurmekaar is soos dié van ons ou horlosie, kan dit problematies wees want dit is daar waar ons dikwels ‘n stryd voer waarvan die uitkoms ons vir baie jare kan affekteer. Ons benodig dus ‘n gesonde verstand wat moeilike tye kan weerstaan en ferm bly. As ons nie in sulke tye deeglik geanker is nie sal ons val, maar as ons in God geanker is sal Hy ons vas laat staan.

Ons gedagtes – gewoonlik die teiken van ‘n aanval – is vrugbare grond en afhangende van wat ons dit voer, is dit positief of negatief, en beide kan ons aksies en gevoelens beïnvloed. Sodra rede verslaan is, is ons gedagtes weerloos en kan op enige vlak swig, of dit nou voor iets relatief onskadelik is, soos ‘n slim advertensie, of voor iets tragies soos die morele, geestelike of fisiese vernietiging van ‘n lewe.

Koning Saul was ‘n voorbeeld hiervan. Saul het Dawid, nadat laasgenoemde Goliat verslaan het, bewonder en bevorder, maar jaloesie het ingekruip toe hulle van die geveg terugkeer “en die danseresse … koning Saul tegemoet gegaan … gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” (1 Samuel 18:6b-7)

Alhoewel Saul ‘n ervare soldaat was, het hy egter nie die waarskuwingstekens van sy innerlike stryd herken nie. Vasgevang in sy eie trots, het hy homself van God vervreem deur te kies om nie God se opdragte te gehoorsaam nie en om dinge op sy eie manier te doen. Hy was besig om die pad beister te raak en het God se hulp benodig.

Eerstens “het Saul hom vererg. Dit [die vroue se lied] het hom nie geval nie” (1 Samuel 18:8), jaloesie en wantroue het ingekruip en toe “het ‘n boosaardige gees … vir Saul beetgepak. … Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen. Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal.” (1 Samuel 18:10-11) Saul se vrees vir Dawid en sy toenemende waansin, het gemaak dat hy Dawid wou doodmaak, maar dit het gelei tot ‘n stryd wat hy nie kon wen nie. Die ironie is dat Dawid, getrou aan God en aan homself, tot die einde lojaal aan Saul gebly het, selfs toe hy hom kon doodmaak.

Ons kan nie wegdraai van God en dan dink dat ons beheer oor ons gedagtes en lewe sal hê nie. Dit maak nie saak hoe goed ons dink ons vaar nie: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” (1 Petrus 5:8)

Maar, “God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Timoteus 1:7, 2020-vertaling)

Gebed: Hemelse Vader, gee aan my krag om U gehoorsaam te wees. Vervang deur Jesus Christus my Verlosser, al my vrees met u krag, liefde en ‘n gesonde verstand. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS