Bible Society of South Africa

Leef voluit: Geen rede vir "wat as" nie - 23 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

MATTEUS 6:33AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Bekommernis is ‘n gesprek wat jy met jouself het oor dinge wat jy nie kan verander nie. Gebed is ‘n gesprek met God oor dinge wat Hy kan verander.” So lui een van die wyshede wat onlangs op sosiale media die rondte gedoen het en wat duidelik een van die raaisels waarmee ons soms te make het, identifiseer – om onsself deur bekommernis gevange te laat neem alhoewel ons weet dat ons niks daaraan kan doen nie eerder as om reguit met God, wat dit kan verander, daaroor te praat.

In vandag se teksgedeelte praat Jesus in sy Bergrede oor bekommernis en Hy identifiseer die dinge wat ons die meeste bekommer, geld, kos en klere (Matteus 6:24-26). Alles dinge wat goed en noodsaaklik is, maar waaroor ons ‘n fiksasie (afgodery?) kan ontwikkel as ons nie op ons ware prioriteit fokus nie. Jesus verduidelik dat as ons ons besig hou met ‘n koninkrykleefstyl soos Hy in sy prediking vir ons beskryf, in ‘n regte verhouding met God staan en volgens sy waardes leef, sal Hy al die ander dinge vir ons gee en ons in staat stel om kommervrye lewens te leef, vry om op dit wat werklik saak maak te fokus.

Om hulle verder aan te moedig, verbreed Jesus hulle perspektief en fokus op God: “Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg?” (Matteus 6:27) “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. … Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, … Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.” (Matteus 6:32b,34)

Jesus bedoel hier dat wanneer ons elke dag wakker word, weet ons nie wat die dag vir ons inhou nie, maar die persoon wat Hom op sy woord neem, en op grond van dit wat hy van God weet, vertrou dat Hy vir almal sal voorsien, is ‘n gelukkige persoon.

Paulus het sulke dae geken. Hy is soms tot die uiterste beproef en is vervolg toe hy, soos die Gees hom gelei het, die evangelie in verskillende gebiede verkondig het – hy is geslaan, in die tronk gegooi, het 39 houe ontvang, is gestenig, het drie keer skipbreuk gely, was 24 uur in die water en het nog baie meer ter wille van die groeiende kerk gely (lees 2 Korinthiërs 11:23-33) – maar tog het hy sterk en standvastig bly staan omdat hy, gedurende daardie moeilike tye, bewus was van Christus se groot krag wat in hom werk.

Jesus het later oor hierdie “doring in die vlees” (2 Korinthiërs 12:7) vir Paulus gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” (2 Korinthiërs 12:9). Dit het daartoe gelei dat Paulus kon sê: “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.” (2 Korinthiërs 12:10)

In plaas van om voort te sukkel, het Paulus sterker geword. Die tronk het ‘n plek geword vanwaar hy briewe gestuur het om die jong gemeentes aktief te ondersteun, waar hy lofliedere kon sing en wonderwerke beleef (Handelinge 16:25-26) en vanwaar hy die jong Timoteus kon bemoedig: “Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met ‘n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik, bedags en snags, in my gebede aan jou dink.” (2 Timoteus 1:3)

Wat hou jou vandag gevange? Waarop fokus jy? Watter lied sal jy sing?

Gebed: Genadige Vader, dankie dat U elke dag vir my voorsien. Gee dat u liefde, asook my waardering vir U en vir u getrouheid, elke dag in my lewe sal toeneem. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS