Bible Society of South Africa

Leef voluit: God is altyd daar - 12 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

HANDELINGE 27

22Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan.

HANDELINGE 27:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke dag bring nuwe uitdagings, maar die afgelope aantal jare, veral nadat ek belangrike mense in my lewe verloor het, wanneer ek beproewings, hartseer en teleurstellings – die storms van die lewe – moet verduur waardeer ek die troos en krag wat net God aan my kan gee soveel meer. Ek wonder dikwels hoe enigiemand wat nie vir Jesus ken nie deur dit alles kom. Ons het Hom ook nodig wanneer ons fisies in ‘n storm is en die elemente om ons woed, maar ‘n mens besef eers hoekom wanneer jy dit beleef.

Paulus het alles oor verskillende storms geweet, en sy woorde in vandag se teksvers is ‘n bewys dat ons hier met iemand met groot geestelike diepte te make het. Toe hy en sy medepassasiers aan boord ‘n skip onderweg na Rome, hulleself in ‘n woeste storm bevind het – toe vir “dae lank die son en die sterre nie te sien [was] nie …” en hulle “uiteindelik alle hoop laat vaar [het] om gered te word” (Handelinge 27:20) – het Paulus ‘n boodskap van God ontvang wat sy geloof versterk het. God het ‘n engel na Paulus gestuur met hierdie gerusstellende boodskap: “Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.” (Handelinge 27:24)

Paulus het definitief vir die veiligheid van sy beangste reisgenote gebid en hy kon hierdie vertroostende boodskap van genade met hulle deel: “Verlede nag het daar ‘n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien.” (Handelinge 27:23) Paulus se geloof in God se doel met sy lewe het hom vas laat staan en het hom aangemoedig om in belangrike oomblikke leiding te neem. God het Paulus se getuienis gebruik om die mense aan boord te verseker dat Hy in beheer is en dat Hy hulle veilig deur die storm en skipbreuk sou lei.

Selfs al was Paulus se reisgenote aanvanklik skepties en het hulle heel moontlik sy gesonde verstand bevraagteken toe hy gepraat het oor ‘n engel langs hom en oor die God aan wie hy behoort en wie hy dien, het hulle tog besef Paulus was hulle enigste hoop om daardie noodlottige reis te oorleef. Hulle het nie Paulus se God geken nie, maar hulle het Hom in Paulus aan die werk gesien, en hulle het gehoop dat dit wat hy met hulle gedeel het waar was en het toenemend begin om in Paulus en sy God te glo.

Ek is baie lief vir die Bybel se eerlike uitbeelding van die volle spektrum van die lewe, en van die Almagtige God wat altyd deur sy barmhartigheid en genade teenwoordig is deur ons Here Jesus Christus wat sy lig van liefde, wysheid, troos en regstelling in ons donker lewens en situasies laat skyn – ongeag die persoon of omstandighede.

Watter storms beleef jy tans op jou reis?

Geld Paulus se woorde van bemoediging aan sy reisgenote in vandag se teksvers nie ook vir ons nie?

Gebed: Here, U “is my herder, ek kom niks kort nie. [U] laat my rus in groen weivelde. [U] bring my by waters waar daar vrede is. [U] gee my nuwe krag.” (Psalm 23:2-3) Dankie dat U altyd teenwoordig is. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS