Bible Society of South Africa

Jesus se openbaring aan ons - 1 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Voorwoord

1Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien.

DIE OPENBARING 1:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus Christus is die oorwinnaar en saam met Hom is sy kerk op aarde ook oorwinnaars. Dit is die sentrale boodskap van die boek Openbaring. Daar bestaan veral twee menings oor hoekom die boek geskryf is.

Die eerste siening is dat dit letterlik voorspel wat in die toekoms gaan gebeur. As ‘n mens die boek so verklaar, word dit gesien as ‘n direkte voorspelling van die gebeure aan die einde van die tyd en word die hele boek van Openbaring letterlik uitgelê. Huidige gebeurtenisse soos oorloë, rampe en siektes, soos die onlangse Covid-19 pandemie, word dan verklaar as vervulling van die profetiese uitsprake wat ons in Openbaring kry. Met so ‘n verklaring loop mens jou egter vas teen baie moeilik verklaarbare idees, getalle, datums en beelde. Selfs tussen die verskillende groepe wat ‘n letterlike uitleg voorstaan, is daar dikwels ook groot verskille oor wat die simboliek werklik beteken.

Dit is onmoontlik om in ‘n paar kort dagstukkies die boek Openbaring naastenby volledig te behandel. Ons gaan daarom net probeer om die hoofdoel van Openbaring uit te lig, nie as ‘n voorspelling van die toekoms nie, maar om vir Christene van alle tye ‘n troos en riglyn te wees. Dieselfde tegniek word ook in Ou Testamentiese boeke gebruik om vir die mense wat in ballingskap is troos te bied in hulle soms haglike omstandighede.

Esegiël doen dit veral deur ‘n visioen van die nuwe tempel en die nuwe Israel (Esegiël 43 en 44). Die nuwe tempel en nuwe Israel in Esegiël was nie bedoel om fisies in vervulling te gaan nie en in die geskiedenis het dit dan ook nooit gebeur nie. Dit was ‘n visioen of openbaring van beter tye wat vir God se volk gewag het. So ook met die openbaring aan Johannes.

Openbaring wil ons laat verstaan dat al gebeur wat ook al, Jesus is en bly vir ewig Koning. Al sou Satan ook al sy magte loslaat, Jesus oorwin altyd weer. In Openbaring word die lyn vanaf Jesus se oorwinning oor die sonde, en sy oorwinning oor die dood, deurgetrek vir tyd en ewigheid.

Gebed: Ons loof en prys U dat U ook aan ons deur u Woord geopenbaar het dat Jesus die oorwinnaar is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS