Bible Society of South Africa

In pas met God: Liefde, gehoorsaamheid, vrug - 24 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

JOHANNES 14:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vir ‘n tuinier bring dit groot blydskap om te sien hoe ‘n plant in sy goedversorgde tuin floreer, swaar gelaai met vrugte of blomme – ‘n bevredigende bewys van sy sorg en harde werk. Dit is sy beloning na die baie ure wat gespandeer is om ‘n stuk ongebruikte grond te verander in ‘n mooi tuin, nie net vir sy eie genot nie, maar ook vir die van ander. Goeie tuinboubeginsels wat hy by ander geleer het – asook aan die begin ‘n groot mate van leer en probeer – is wat hom gehelp het om dit te bereik. Om bereid te wees om te leer, maak ‘n groot verskil.

Jy weet dat God die kundigste tuinier is of hoe? Wel, Jesus skets vir ons deur ‘n wingerdstok as metafoor te gebruik, ‘n pragtige prentjie van eenheid en interafhanklikheid tussen Hom en sy Vader, asook die rol wat Hulle in die lewens van gelowiges speel om dit vir hulle moontlik te maak om pragtige, blywende vrugte te dra. (Johannes 15:1-5)

Jesus het sy Vader as die tuinier beskou, Homself as die “ware wingerdstok”, en die wat in Hom glo as die lote. Dit is ‘n duidelike prentjie: die tuinier plant en versorg die wingerdstok, wie se lote gesonde vrugte dra. Die tuinier neem groot sorg om die wingerdstok gesond te hou en daarom sny hy die lote wat nie vrugte dra nie af, en hy snoei en vorm die wat wel vrug dra sodat hulle goed kan groei en baie vrug kan dra.

In vandag se teksvers wys Jesus op die belangrikheid dat enigeen wat Hom liefhet ook sy woorde ter harte sal neem, eerstens as ‘n bewys dat die persoon Hom liefhet, maar belangriker nog omdat “my Vader sal hom liefhê”, en saam sal Hulle “na hom toe kom en by hom woon”.

Om by iemand te kom woon, verwys na ‘n verandering in houding, wedersydse liefde en sorg, ten einde in vrede saam te kan leef. Jesus se leer het dieselfde skoonmaak effek in ons as die snoei van ‘n wingerd en daarom is gehoorsaamheid lewensbelangrik vir ons om in pas met Hom te kan bly en goeie vrug te kan dra. Ons kan nie in ons eie krag blywend vrug dra nie. Dit is nodig dat ons in Hom bly.

Jesus is die sleutel tot eenheid met die Vader. Hy sê: “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30) en “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie”. (Johannes 14:6)

Mag ons Jesus liefhê en gehoorsaam, en mag “… God, wat die goeie werk in [ons] begin het, dit end-uit … voer en dit … voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Filippense 1:6)

Gebed: Here Jesus, U en die Vader is die toonbeeld van die liefde en eenheid waarna ons in ons lewens verlang. Help my om nie u woorde te vergeet nie, maar gehoorsaam aan u leer te bly en goeie vrugte te dra. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS