Bible Society of South Africa

In 'n groef - 9 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,

dit staan op die punt om te gebeur,

julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn 'n pad,

Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

JESAJA 43:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al ooit gevoel asof jy in ‘n groef vasgeval is? Miskien doen jy dieselfde ding al vir so lank dat dit voel asof jy maar net deur die bewegings gaan. Of miskien beleef jy tans ‘n uitdaging wat onoorkomelik blyk te wees, en is jy nie seker hoe om vorentoe te gaan nie. Dit is in tye soos hierdie wat ‘n mens maklik moed verloor en wonder of dinge ooit sal verander.

Jesaja 43:19 bied aan ons ‘n boodskap van hoop en gerusstelling. God sê dat Hy iets nuuts doen en dat Hy ‘n pad in die woestyn maak en dat riviere in die droë wêreld sal ontspring. Hierdie teksvers bevestig dat al is ons omstandighede ook hoe somber, God is aan die werk en Hy kan ‘n pad maak al lyk dit of daar geen uitkoms is nie.

Regdeur die Bybel bewys God Homself as die God van ‘n nuwe begin. Hy het die wêreld uit niks gemaak, en Hy beskik ook oor die mag om iets nuuts in ons lewens te doen. Die nuwe ding wat God in ons lewens doen, is egter nie altyd onmiddellik vir ons duidelik nie. Dit mag van ons verlang om in die geloof voort te gaan en Hom te vertrou om ons in ‘n nuwe rigting te lei. Maar as ons gewillig is om sy leiding te volg, kan ons seker wees dat Hy ons sal lei na waar ons moet gaan.

So as jy vandag voel of jy in ‘n groef is, of onseker oor die toekoms, skep moed uit die woorde van Jesaja 43:19. Onthou dat God iets nuuts doen, en dat Hy ‘n pad vir jou maak. Vra Hom om aan jou die geloof en moed te gee om sy leiding te volg, selfs wanneer dit moeilik is. En vertrou Hom om jou na ‘n plek van hoop en ‘n nuwe begin te lei.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u belofte in Jesaja 43:19. Help ons om U te vertrou om ons in ‘n nuwe rigting te lei, selfs wanneer dinge moeilik en onseker is. Gee aan ons die geloof om te glo in die nuwe ding wat U in ons lewens doen. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS