Bible Society of South Africa

Blomme en mossies - 10 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

MATTEUS 6:33-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit kan soms moeilik wees om God te vertrou, veral wanneer ons uitdagings en onsekerhede moet oorkom. ‘n Mens kan maklik vasgevang raak in al die bekommernisse oor jou toekoms en dan probeer om elke aspek van jou lewe self te beheer. Maar in hierdie teksvers herinner Jesus ons daaraan dat as ons ons eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, daar in al ons behoeftes voorsien sal word.

Net soos die blomme in die veld en die voëls van die hemel, kan ons God vertrou om elke dag vir ons te voorsien. Ons hoef ons nie oor die toekoms te bekommer nie want God is reeds daar, besig om vir ons ‘n pad voor te berei.

Maar om God se koninkryk en geregtigheid te soek, beteken dat ons ons wil aan Hom moet oorgee. Dit beteken dat ons ons begeertes opsy moet sit en ons bo alles vir sy wil moet beywer. Dit kan moeilik wees, maar dit is die moeite werd. Wanneer ons onsself in lyn bring met God se plan, kan ons Hom vertrou om ons te lei na waar ons moet wees.

Kom ons wend vandag ‘n daadwerklike poging aan om eers God se koninkryk en sy geregtigheid te soek. Kom ons sit al ons bekommernisse opsy en vertrou dat Hy vir ons sal voorsien. Kom ons vra Hom om ons te lei en aan ons die krag te gee om sy wil te doen, selfs wanneer dit moeilik is.

Gebed: Dierbare God en Vader, help ons om u plan vir ons lewens te vertrou. Gee aan ons die moed en krag om eers u koninkryk en geregtigheid te soek, en U te vertrou om in ons behoeftes te voorsien. Help ons om ons bekommernisse opsy te sit en ons wil aan U oor te gee. Lei ons en, selfs wanneer dit moeilik is, gee aan ons die krag om u wil te doen. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS