Bible Society of South Africa

Die leërmag van God - 9 September 2024

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

JESAJA 66

15Die Here kom in vuur,

sy strydwaens is soos 'n stormwind.

Hy kom sy toorn koel,

Hy kom die straf voltrek met vuur.

JESAJA 66:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek dink vir solank ek kan onthou was ek ‘n pasifis wat die denkrigting dat oorlog en geweld altyd verkeerd is onderskryf het. Ek glo steeds nie in oorlog nie, maar die mensdom word ongetwyfeld in verskeie gevalle gedwing om te veg vir wat reg is.

Om die waarheid te sê, die geskiedenis van die mensdom word deur oorlog gekenmerk. Die wyse Aristoteles, het iets beet gehad toe hy gesê het: “Ons maak oorlog sodat ons in vrede kan leef.” Georges Clemeceau, het die spyker op die kop geslaan toe hy gesê het: “I don’t know whether war is an interlude during peace, or peace an interlude during war.”

Die vyand van ons siele bestaan en ware vrede kan slegs kom wanneer hy oorwin is. Kom ons kyk na sommige van die oorloë in die Bybel en hoe God se leër daartydens opgetree het. Ek wil dit duidelik stel, die God wat ons dien het ‘n leërmag wat besig is om oorlog te voer. In die Bybel is oorloë van beide fisiese sowel as geestelike aard vir ons opgeteken. Kom ons kyk na wat die Bybel hieroor sê.

Elisa se dienskneg het iets beleef waarvan ons net kan droom. Dit is vir ons opgeteken in 2 Konings 6:15-18: “Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ‘n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?” Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!” Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het.”

Josua het die aanvoerder van die leër van God ontmoet en voor Hom neergebuig. Lees Josua 5:13-15: “Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar ‘n man voor hom met ‘n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s’n?” “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?” Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is ‘n gewyde plek.” Josua het dit gedoen.”

Die God van die heelal is kragtig. Hy het engele wat vir ons veg. Die boodskap oor watter rol die aartsengel Migael in die toekoms sou speel, het Daniël, die profeet, ongetwyfeld vertroos: “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.” (Daniël 12:1)

Jesus het die nag wat Hy gevange geneem is, gesê: “Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.” (Matteus 26:53)

Ten einde die verlossingsplan te vervul het Jesus gekies om nie die engele te gebruik om Hom in heerlikheid van hier weg te neem nie. Watter selfbeheersing het Hy nie getoon deur eerder na die kruis toe te gaan nie. En maak geen fout nie: die opgestane Koning sal in alle heerlikheid definitief weer kom.

Ek kan ook nie nalaat om na die leërmag wat aan die einde van tyd daar sal wees, te verwys nie: “Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ‘n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ‘n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.” (Openbaring 19:11-14)

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my oë geopen het vir die geestelike oorlog wat om ons woed. En dankie dat ons weet U beskik oor alles wat nodig is en oor die krag om in alle omstandighede met die vyand af te reken. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS