Bible Society of South Africa

Die getuienis van die eenheid van die kerk – 28 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

JOHANNES 17:20-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer Jesus die aand voor sy kruisiging vir sy dissipels bid in Johannes 17, sit daar 11 manne rondom Hom. Dié manne wat daardie nag nog bang sou weghardloop, en Hom in die steek laat. Maar na sy opstanding sou Hy hulle weer bymekaar maak, en vir nog 40 dae opbou in hulle geloof. Deur die krag van die Heilige Gees sou hierdie manne die wêreld ingaan, en van Jesus gaan vertel. Deur hulle woorde het ons voorouers en ons tot geloof gekom dat Jesus die Here is.

Jesus bid ‘n belangrike ding in Johannes 17:21. Hy bid dat sy kerk oor die eeue heen een sal wees, dat dieselfde eenheid wat tussen die Vader en die Seun is, ook deur die kerk sigbaar sal wees. Dit is so belangrik, want deur die eenheid van die kerk sal die getuienis uitgedra word dat Hy die Here is wat mense nuut maak.

Ons doen tans nie so goed met hierdie opdrag van Jesus nie. Dit is skrikwekkend hoe baie onenigheid daar in die kerk oor die wêreld is. Ek skrik as ek die taalgebruik op Twitter sien waarmee kerkleiers mekaar aanval oor kleinlike verskille. Ek beleef die spanning tussen kerkgenootskappe, en soms in die gemeente tussen kinders van die Here wat verskillend oor sake dink.

Bo alles waaroor ons verskil, troon die liefdesgebod van Jesus uit! (Johannes 15:12) Mense wat Jesus as Here van hulle lewe bely, moet die ander kinders van die Here so liefhê soos wat Hy ons liefhet. Dit beteken nie dat ons met mekaar oor alles saamstem nie. Daar mag groot verskille in ons sieninge oor belangrike sake wees. Maar belangriker as ons verskille is ons verhouding met die Here wat so lief vir ons is, dat Hy vir ons gesterf het. Die kerk oor die wêreld heen behoort aan Hom, dis sy bruid. Dis sy liggaam wat sy werk voortsit. En die Here van die kerk beveel en bid vir eenheid tussen gelowiges. Dan dra dit die getuienis uit dat Hy die Here is. Dan sal die wêreld dit kan glo dat Jesus ‘n verskil maak.

Gebed: Here, ek kan so maklik vasval in my menslike natuur, om te dink dat ek alleen al die insig het, en altyd reg is. Ek kan so op my standpunte staan, dat ek vergeet om mense wat anders as ek dink, steeds lief te hê. Vergewe my daarvoor! Leer my om ook na ander te luister, en ruimte te maak dat ander van my mag verskil. Help my om u ander kinders lief te hê, want U het hulle onbeskryflik lief. Laat liefde my woorde en dade rig. Mag u liefde deur my skyn! Amen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS