Bible Society of South Africa

Begin nuut … deur anders na onsself te kyk – 20 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

18Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:

Al was julle skarlakenrooi van sonde,

julle sal wit word soos sneeu.

Al was julle purperrooi,

julle sal wit word soos wol.

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ’n videogreep wat ek onlangs op sosiale media gesien het, haal ’n boer versigtig ’n skaap uit ’n voortjie waarin dit kop eerste beland het. Dit neem egter net twee of drie spronge nadat die skaap uitgehaal is voordat dit wéér kop eerste in dieselfde voor beland.

Dié videogreep het my laat dink aan hoe sommige van ons deur die lewe gaan – kop ondertoe. Dit kan wees weens verkeerde keuses of afdraaipaadjies in die verlede, ander se afkraakwoorde of kritiek (of ons eie) of selfs ’n minderwaardigheidskompleks. Ons begin glo Satan se leuens dat ons nie waardig is om ’n lewe in oorvloed te smaak nie, so ons kyk eerder ondertoe.

God, ons groot Skaapwagter, sê egter in Jeremia 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken …” (1983-vertaling) In Jesaja 1:18 herinner Hy ons dat Hy ons van ons verlede vrymaak: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (1983-vertaling) Dan in Jeremia 29:11 herinner Hy ons dat selfs al gaan ons deur moeilike seisoene, Hy stééds groter planne vir ons het as om ’n “afkyk grond toe” leefstyl te handhaaf: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” (1983-vertaling)

God het méér gedagtes oor ons elkeen as wat daar sand in die see is (Psalm 139). Hy het sy Seun, Jesus Christus gegee sodat ons ’n lewe in oorvloed kan smaak. Kom ons stap weg van die voortjie, kop omhoog, omdat ons weet dat ons in sy oë waardig is om ’n lewe in oorvloed te smaak. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my fyn beplan het toe U my gevorm het. Help my asseblief om myself te sien soos U my sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS