Bible Society of South Africa

Vryheid om te gaan en te vertel – 22 April 2021

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

MATTEUS 28

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. 10Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

MATTEUS 28:8-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het ons van vrees gelees en hoe die Bybel keer op keer sê dat ons nie langer bang moet wees nie. Beide die engel en Jesus het aan die vroue gesê: “Moenie langer bang wees nie.” Hulle het egter ook iets anders gesê: “Gaan sê vir … ”

Christus se offer vir ons sonde en sy oorwinning oor die dood bevry ons nie net van vrees nie, maar gee ook aan ons die vryheid om dit aan ander te vertel – sodat hulle nie net teenoor mekaar van die goeie nuus van Jesus Christus kan getuig nie, maar ook tot aan die einde van die aarde. (Matteus 28:19-20, Handelinge 1:8)

Almal wat hierdie goeie nuus hoor en vertrou dat Jesus die Here en Verlosser is, kan die ewige lewe in die teenwoordigheid van God geniet. Hierdie wonderlike werklikheid in Christus stel ons in staat om in ‘n vol en volkome verhouding met God te leef. Die voltooide werk van Jesus bevry ons vir ‘n nuwe lewe om, beide in die hemel en hier op aarde, met ‘n doel en in die liefde en geregtigheid van ons Here Jesus Christus te leef. Genade onbeskryflik groot!

Mag God jou vandag van alle vrees bevry. Mag Hy jou vrymaak sodat jy in sy liefde kan leef en die goeie nuus van Jesus se verlossing vir almal wat hoor en glo, aan ander kan vertel. Meer nog, jy kan mense vertel van die opstandingskrag van Christus wat in jou eie lewe werk!

Gebed: Liewe Heer, deur u opstanding gee U aan ons die vryheid om in ‘n volkome verhouding met U te wees. Bevry ons asseblief van enige vrees wat ons mag verhinder om so te leef, en opbenbaar asseblief u doel en krag ten volle in ons. Ons vra dit in u Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS