Bible Society of South Africa

Vry van vrees – 21 April 2021

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

JESAJA 43

Jy is Myne

1Luister, so sê die Here

wat jou geskep het, Jakob,

wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,

Ek het jou op jou naam geroep,

jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie,

JESAJA 43:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar bestaan ‘n hele aantal vreemde fobies. Van tafofobie (die vrees om lewendig begrawe te word) tot globofobie (‘n vrees vir ballonne) en my persoonlike gunsteling, nomofobie (die vrees om van jou selfoon geskei te wees). Dit is duidelik dat feitlik enigiets vir sommige mense vrees kan inhou.

Baie mense is bang vir slange of spinnekoppe. Ander is weer bang vir hoogtes, of het engtevrees of is bang om in die openbaar te praat. Baie van ons vrees mislukking, verandering, die dood of eensaamheid. Baie mense leef daagliks met ‘n werklike vrees vir vervolging, onderdrukking, diskriminasie of liggaamlike aanranding.

Hierdie wêreld kan ‘n skrikwekkende plek wees, en vrees is iets wat ons almal soms beleef.

Maar die Bybel sê: “Moenie bang wees nie!” Keer op keer lees ons dat die Here sy volk bemoedig en vertroos met woorde soos “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy.” In die verhaal van Jesus se opstanding, begin beide die engel by die graf en Jesus op die pad hulle gesprekke met die vroue deur te sê: “Moenie langer bang wees nie … ”

Die vroue se ervaring met die bonatuurlike was oorweldigend en hulle was werklik bang. Maar die krag van die opstanding verseker ons dat die Here vir sy kinders omgee en dat Hy by ons is wat ook al gebeur.

Omdat Jesus opgestaan het en deur sy Heilige Gees altyd by ons is (Matteus 28:18-20), kan ons vry van vrees wees want ons is nooit alleen nie. In die teenwoordigheid van God en deur sy krag kan ons wat ook al gebeur trotseer.

Gebed: Here, U is altyd by ons. Maak ons bewus van u krag en vul ons met u moed om ons vrese te oorkom, met die wete dat ons nooit alleen is nie. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS